Glasslaner gaan nie vervolg word nie
Die jong man wat vir Dirk Kotze met ’n glas in die gesig geslaan het, gaan byna skotvry daarvan afkom.
Mnr. Kotze (40) is in die vroeë oggendure van 12 Maart met ’n glas in die gesig geslaan, toe hy twee mans wat baklei het, uitmekaar gehaal het.
Hy het tussenbeide getree om die gemoedere te kalmeer, waarop ’n jong man hom van die kant af met ’n glas geslaan het.
Lees ook: Lang pad van herstel lê voor vir man wat met glas geslaan is
Die spesialis kon sy oogbal red, maar hy het steeds nie sig in sy oog nie.
Daar is aanvanklik ’n klagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer, by die polisie geopen, maar die saak is intussen teruggetrek.
Mnr. Derik van Wyk, mnr. Kotze se regsverteenwoordiger, het bevestig dat die partye geskik het.
Lees ook: Ooggetuies vertel wat gebeur het waar man se oog onherstelbaar beseer is met glas
“Ons het saam met die jong man se prokureur, mnr. Josef van Eeden, om ’n tafel gesit en besluit om te skik. Daar is besluit om nie aan te gaan met kriminele vervolging nie. Dit is nie ten doel om ’n outjie wat ’n fout gemaak het, se lewe te verwoes nie.”
