News

Groot belonings vir hondekinders

Terwyl mens dit as vanselfsprekend aanvaar dat enige ouer hemel en aarde sal skuif vir hulle kinders, is daar tog mense wat nie ’n prys kan plaas op die liefde wat hulle het vir hulle diere nie.

Drie plaaslike inwoners het die belonings wat hulle aangebied het verhoog, net om hulle hondekinders terug te kry.

• Die vermiste Boston Terrier tefie, Nala, het plaaslike roem verwerf, na haar verdwyning ses maande terug, danksy die toegewyde pogings van haar eienaars om haar op te spoor.

Nala se eienaar Cindy, het aan www.mobserver.co.za bevestig dat Nala steeds vermis is, maar dat die beloning van R7000 nog staan aan enigiemand wat haar veilig kan terug besorg.

Cindy het verskeie plasings gemaak waarop negatiewe kommentaar haar aangeraai het om vrede te maak dat haar hond weg is. Sy klou steeds vas aan hoop dat Nala iewers opgespoor kan word.

Indien iemand meer inligting het oor waar Nala haarself bevind, kontak Cindy by 079 090 0793.

Hendré Greybe bied ’n beloning van R4000 aan vir sy Schnauzer, Lilly,

•Die miniatuur Schnauzer tefie, Lilly, word ook steeds gesoek na haar verdwyning ’n week gelede. Lilly het weggeraak vanuit haar erf in Groenkol en was op ’n tyd in Paardebergstraat gesien.

Die beloning van R1000 is na R4000 verhoog, en enigiemand wat haar dalk gesien het kan vir Hendré Greybe kontak by 081 094 9825.

• Die vriendelike jong pit-bull, Dozer, is opgespoor nadat sy eienaar, Christo Janse van Rensburg, sy beloning van R2000 na R7000 verhoog het.

Christo is oortuig dat Dozer vanuit sy erf gesteel is in Brugstraat, omdat daar nêrens uitkom plek is vir hom nie. Die blomme in sy bedding was platgetrap en die vermoede bestaan dat iemand vir Dozer oor die muur getel het.

Dozer het Vrydag om 16:00 verdwyn, en Christo het by elke huis in die area gaan aanklop.

Inwoners by een van die huise wat aanvanklik nie wou help nie, het Sondagoggend mnr. Janse van Rensburg gekontak en Dozer aan hom terug besorg. Hy het die beloning van R7000 aan hulle oorbetaal.

Dozer is aan sy liefdevolle eienaar terug besorg nadat ’n beloning van R7000 vir hom aangebied is.

Back to top button