Is seekoeibaba deur rivier in vloed weggesleur?
Is die seekoeibaba meegesleur met die rivierstroom toe die Middelburgdam se sluise oopgemaak is?
Dit is die tergende vraag nadat net twee van die dorp se drie seekoeie gisteraand in ’n plaasdam op die Zaaiplaaspad buite eMalahleni gesien is. Die baba was nêrens.
’n Plaaswerker het hulle gesien en die eienaar van die plaas, wie se huis net etlike meters vanaf die dam geleë is, laat weet.
Daar word bespiegel dat die kalfie verlede week weggesleur is deur die Klein Olifantsrivier toe die Middelburgdam se sluise oopgemaak is.
Oud-Middelburger, Piet Wassenaar, wat tans langs die plaasdam sit en die area fyn dophou, sê dat daar baie riete en biesies is waar die baba moontlik kan wegkruip.
Die seekoeie is Donderdag laas in die Eastdene omgewing in die Klein Olifants in Middelburg gesien.
’n Man het kort daarna ook laat weet dat hy hulle in die rivier by Botshabelo gesien het. Almal het gesê dit is baie onwaarskynlik, maar nou klink dit nie meer so vergesog nie.

“Ek het jul seekoeie gekry!” het mnr. Ertjies Röhm vanoggend vir ’n joernalis van www.mobserver.co.za gesê.
Mnr. Röhm (wildbestuur, Mpumalanga Toerisme en Parke Agentskap) sê dit is nou beslis nie meer onmoontlik dat die seekoeie by Botshabelo gesien kon gewees het nie.
Die area waar die seekoeie nou in die plaasdam is, is net 40km vanaf Botshabelo. Die plaasdam is sowat 12km, “soos die kraai vlieg” vanaf die Olifantsrivier af.
Mnr. Wassenaar, eienaar van die Presidio sekuriteitsfirma in eMalahleni, het ’n permit van die MTPA om probleemdiere te verwyder. Hy het juis die vorige somerseisoen in die einste dam krokodille gevang, wat ontsnap het van ‘n nabygeleë krokodilplaas.
Mnr. Wassenaar sê dat die MTPA hom gevra het om die seekoeie dop te hou, sodat daar besluit kan word wanneer hulle veilig verwyder kan word.
• Die drie seekoeie het so eie aan ons dorp geword die afgelope paar weke, dat ’n mens eintlik hartseer is dat hulle ‘groener weivelde’ in eMalahleni gaan soek het.
• Seekoeie kan meer as 10km in ’n nag loop en dit is nie vreemd dat hulle so ver kon uitgewyk het nie. Almal is egter bekommerd oor die welstand van die kalfie.
