Michael beskuldig dat hy CCTV kameras gesteel het
Sy weet wat almal van haar kind sê...miskien is dit waar, maar al is hy ’n dwelmverslaafde, bly sy lief vir hom.
Talle mense het Michael Tobben (34) herken op ’n foto wat op noodgroepe rondgestuur is na CCTV kameras by verskeie huise, die St Joseph’s Tehuis vir Bejaardes en by besighede gesteel is. Die kamera-ogie het die persoon afgeneem, terwyl hy die kamera gesteel het.
’n Paar dae later het ’n vrou (wat anoniem wil bly) beweer dat Michael die kameras aan haar probeer verkwansel het vir R500.
“Hy het palmboompies, wat ek nie weet waar hy dit gekry het nie, ook probeer verkoop.”
Boodskappe is rondgestuur dat Michael gearresteer is vir diefstal, maar dit kon nie bevestig word nie.
“Ek weet van al hierdie dinge. Ek weet nie meer wat om te doen nie…” het sy ma, Lorinda, gesê. Sy het in Middelburg gebly, maar is tans in Rustenburg.

Michael was al by die Oorwinnaars Halfweghuis, maar het nie gehou by die geen-rook reëls nie en is gevra om te gaan. Lorinda sê hy het ernstige maagprobleme en sou ’n operasie in die Steve Biko Hospitaal ondergaan.
“Hy het so goed gelyk terwyl hy in die hospitaal was.” Michael het egter weggeloop van die hospitaal af en was binne etlike dae weer besig met sy ou gewoonte om heroïne te gebruik.
“Michael het ’n bloeiende maagseer en hy moet die dwelms los!”
• Sy tannie, Lydia Aucamp, is net so radeloos oor Michael. “Ek het nog vir hom daardie baadjie gegee waarmee hy afgeneem is op die CCTV kameras!”
Sy het al verskeie kere vir hom kos, klere, komberse en veral raad gegee, om homself te probeer regruk.
“Hy stel net nie belang nie. Ek het vir hom gesê hy gaan doodgaan op straat, maar hy luister nie.”
’n Paar dae gelede het sy ’n lawaai buite die hek gehoor en gesien hoe mense hom vasdruk om hom aan te rand. “As ek nie geskree het nie, sou hulle hom baie seer gemaak het.”
Sy weet nie hoekom die mense hom aangeval het nie. Sy wil net die beste vir hom hê, maar elke keer as sy vir hom iets gee, dan het hy ’n ander verskoning waarom dit weg is.
“Ek gaan nie meer vir hom iets gee nie. Hy sal self moet besluit dat hy wil skoonkom van die dwelms en sy lewe verander.”
• Michael en een van sy vriende is verlede week deur ’n joernalis gesien op die hoek van Lilian Ngoyi- en Cowen Ntulistraat waar hulle gebedel het vir geld.
