News

Seuns kyk vas in 9mm pistool

Twee graad 10 leerlinge van HTS Middelburg is gistermiddag met ’n pistool aangehou vir hul selfone.

“Hulle het nog gebel om te sê dat hulle net gou by Damien se huis omgaan sodat hy ander klere kan aantrek. Die volgende oomblik toe storm hulle so wit soos lakens by die huis in en sê hulle is beroof,” het me. Mari Wessels ontsteld gesê.

Haar seun, Matthew, en sy vriend, Damien Roberts, het omstreeks 16:00 gestap skool toe, om in die gimnasium te gaan oefen, maar toe hulle daar kom besef hulle het nie betaal nie en weer teruggedraai huistoe.

Naby die bruggie in Kogelstraat het hulle voetstappe agter hulle gehoor.

Die seuns het omgedraai en vasgekyk in die loop van ’n 9mm pistool.

Een van die drie booswigte het die wapen op hulle gerig en vir hulle gesê om hul selfone te oorhandig.

“Die kinders se selfone was nie opsigtelik nie. Matthew se foon was in sy klere versteek en Damien se foon in sy tas, maar hulle het dadelik die fone uitgehaal, toe hulle die wapen sien en hulle gedreig word.”

Later die middag het Damien gesê dat hy die drie mans, waarvan een omtrent 18 haar oud is, by ’n kompleks sien ingaan het. Me. Wessels sê dat beide die kinders erg getraumatiseer is deur die gebeure.

“Die rowers het nie net hul selfone gesteel nie, maar ook hul vryheid en vrede, want Matthew wil nie meer skooltoe en terug loop nie.”

Back to top button