News

Sprankelende Bridget se dood skok Amora Dierepark personeel

Die Houtlepel Winkel by Amora Dierepark se deure sal tot Vrydag gesluit wees, nadat een van die personeellede, Bridget Mahlangu (24), skielik vanoggend in die vroeë oggendure oorlede is.

Haar ma, Meisie Malatji, sê haar dogter is in haar kamer buite hul huis in Nasaret oorlede.
’n Lykskouing sal more gedoen word om te bepaal waaraan sy dood is.

Me. Malatji sê dat dit lyk of Bridget gif ingekry het, maar dat hulle nie wil spekuleer voordat hulle nie presies weet wat die oorsaak van haar dood is nie.

Sy onthou met ’n hartseer glimlag haar kind as ’n “grapjas, wat so mooi na my gekyk het. Sy was ’n lieflike kind.”

Me. Marietjie Britz sê Bridget was haar regterhand by Amora Dierepark.
“Sy was ’n mense-,mens. Een van die eerlikste, betroubaarste mense wat ek geken het.”

Me. Britz vertel hoe lief Bridget vir die diere by die park was.

“Sy was veral lief vir my donkie, Leah, en die Capuchin ape. Sy het altyd gesê dis háár diere.”

Bridget was ’n vriendin vir almal “en het alles en meer gedoen om almal happy te hou. Bridget was ’n awesome mensie met ’n great sin vir humor. Sy was regtig my steunpilaar. Al die kinders wat gereeld die park besoek, gaan haar mis,” het me. Britz hartseer gesê.

• Die familie is tans nog besig om begrafnisreëlings te tref.

• Boodskappe van medelye het reeds begin instroom, nadat me. Britz almal per Facebook in kennis gestel het van haar afsterwe.

• Daar is pienk balonne by die dierepark opgesit in herinnering aan Bridget en personeel by Amora Dierepark, asook personeel van die Ninfa Kwekery en Sita, het spesiale boodskappe op die swartborde geskryf.

• Me. Britz sê hulle gaan Sondag tydens die Paasdiens wat by die park gehou word, ’n kers aansteek as spesiale herinnering aan Bridget. Mense wat die diens bywoon, kan pienk blomme of balonne saambring, wat opgesit sal word by die park.

“Bridget was mal oor pienk, veral dusty pienk.”

Daar is ’n kruis en pienk balonne by Amora Dierepark opgesit in herinnering aan Bridget.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button