News

Geliefde Cecilia laat ’n reuse leemte met haar skielike dood

Cecilia Victor (42), die vrou wat ’n besondere liefde en passie gehad het vir haar werk, haar medemens en haar familie, is Maandag in die vroeë oggendure skielik oorlede.

“My vrou was die gom wat ons almal bymekaar gehou het. Sy het alles met ’n glimlag gedoen en was die beste vrou en ma waarvoor ons kon vra,” het haar man, Wessel, vanoggend gesê.

Hy is Maandag in die vroeë oggendure gewek toe dit vir hom geklink het asof sy vrou ’n nagmerrie kry. Kort daarna het sy opgehou asemhaal en hy het met mond-tot-mond-asemhaling en hartmassering begin.

Hul dogter, Meagan (17), kon nie ’n ambulans in die hande kry nie en mnr. Victor het vir haar gesê om die buurman, ’n paramedikus, te gaan roep. Hulle het ’n geruime tyd probeer om haar lewe te red, maar sy is in die huis oorlede.

Me. Victor het die afgelope meer as 20 jaar vir Nashua Mpumalanga gewerk en het in Desember die toekenning gekry as “werknemer van die jaar”. Sy was die groep administratiewe bestuurder van al drie die takke in Mpumalanga.

Haar werkgewer, mnr. Junior van Niekerk (eienaar, Nashua Mpumalanga) het gister tydens haar roudiens en ook vanoggend in ’n spesiale huldeblyk beskryf hoe baie sy vir hulle beteken het.

“Cecilia is onvervangbaar! Sy het absoluut liefde gelééf en was lief vir almal. Sy het altyd eerste aangebied om iets te doen en het alle take met ’n glimlag aangepak. Sy was ’n sprekende voorbeeld van iemand wat nooit opgegee het nie en nooit teruggestaan het vir ’n uitdaging nie. Sy laat ’n groot leemte by ons en my hart breek vir haar familie.”

Ds. Colin Hertzog (Hervormde Kerk, Noord gemeete) het die roudiens waargeneem en sy preek het gegaan oor die storm op die see uit Matteus 8 en hoe dit ingeweef is in die storms van die lewe, veral die storm waardeur die gesin nou gaan.

Hy het gesê dat veral nou in Paastyd “ons bely dat Hy opgestaan het uit die dood, en dat elkeen wat in Hom glo, soos Cecilia ook geglo het, vir ewig sal lewe. Jesus is God en as ons dit besef, word ons storms mettertyd stil en is daar hoop vir die toekoms. Onthou altyd, dat ons na Hom toe kan gaan, as ons op ons bootjie in stormagtige waters is. Ons almal, vriende, familie, kollegas, sal daar wees, maar ons kan net die water uitskep. Hy maak die storms stil.”

Me. Victor word oorleef deur haar man, Wessel, kinders Jonathan en Meagan (hoofdogter van Hoërskool Kanonkop), haar ouers en suster.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button