Michael beskuldig dat hy kamera by toetsstasie gesteel het
Michael Tobben (34), die dwelmverslaafde wat daarvan beskuldig word dat hy CCTV-kameras gesteel het, het ’n digitale kamera by Manico Toetsstasie gesteel.
Alles is op CCTV videomateraal vasgelê!
Mnr. Coen Klopper (eienaar, Manico Toetsstasie) het die berig oor Michael op www.mobserver.co.za gesien en dadelik ’n joernalis gebel. Lees berig hier.
Hy het vertel dat Michael ’n kamera, wat hulle gebruik om voertuie af te neem waaraan hulle gewerk het vir terugverwysing, by die toetsstasie gesteel het.
Na die gebeure is ’n diefstalsaak by die polisie geopen.
Michael het op 31 Maart net na 15:00 by die toetsstasie opgedaag en ingeloop by die area waar voertuie getoets word. “Daar is duidelik ’n bord op wat sê dat kliënte nie daar toegelaat word nie, maar hy het net ingestap.”
Hy het aan een van die werknemers ’n kombuistoestel probeer verkwansel, maar dit was stukkend en daar is vir hom gesê hulle stel nie belang nie.
Die personeel het weer doenig geraak en is in en uit by kantore.
Michael het in die omgewing rondgestaan. Die oomblik toe die persoon by die kantoor ingaan, het Michael sy kans waargeneem en ’n kamera, wat op ’n kas in ’n houer was, gesteel.
Op die videomateriaal kan ’n mens sien hoe hy iets oor die kamera gooi en dit in dieselfde beweging gryp en daarna wegloop.
Sowat 10 minute later het die personeel agtergekom die kamera is weg en besef wat gebeur het.
Hulle het in voertuie gespring en die area gefynkam.
“’n Dwelmverslaafde het ons verwys na ’n huis, wat hulle die ‘dwelmhuis’ noem, en gesê dat Michael daar bly. Hulle het ons ook gewaarsku om versigtig te wees, want daar bly gewapende mans.”
Hulle is na die huis toe, maar Michael was nie daar nie en hulle het navraag doen by die naaste pandjieswinkels. Een van die pandjieswinkels het bevestig dat Michael daar was en die kamera wou verkoop vir R100. Hulle het egter nie belanggestel nie, aangesien hy nie ’n laaier vir die kamera kon verskaf nie.
“’n Ander dwelmverslaafde het later vir ons gesê dat Michael die kamera by die Iraq taxistaanplek verkoop het vir R100, maar eintlik al die goed wat hy steel, aan ’n persoon in Kanonkop verkoop.”
• ’n Hawelose (wat uit vrees vir sy lewe anoniem wil bly) het Woensdagmiddag by die Middelburg Observer kantore aangekom en gesê dat hy Michael baie goed ken.
Hy en Michael was jare gelede groot vriende. “Michael het Dinsdag omstreeks 19:30 vir my kom vra dat ek saam met hom Kanonkop toe moet gaan, want daar is ’n randsnyer wat hy moet uithaal, maar hy kan nie alleen die traliewerk oopbuig om dit uit te haal nie. Hy het nie gesê hy wil dit steel nie, maar wel gesê hy wil dit gaan uithaal.”
