Seekoeikalfie nog nie weer gesien nie
Daar is beslis net twee seekoeie in die dam duskant eMalahleni en die moontlikheid dat die kalfie meegesleur is in die rivier, word al sterker.
Mnr. Piet Wassenaar, (eienaar, Presidio sekuriteitsfirma in eMalahleni) sê hy het die seekoeie tot laat gisteraand met nagsig dopgehou en daar is beslis net twee seekoeie in die dam.
Dit bevestig die vermoede dat die kalfie, wat die hele tyd saam met die koei en bul in Middelburg gesien is, met die Klein Olifantsrivier meegesleur is, toe die sluise oopgemaak is. Lees ook dié berig hier.
Mnr. Wassenaar sê die kalfie kon moontlik ook met die Olifantsrivier weggevoer geword het, aangesien die seekoeie op hul pad vanaf Middelburg na die dam op die Zaaiplaaspad, die Olifants moes oorsteek.
Witbankdam se sluise was ook oop en was die Olifantsrivier, soos die Klein Olifants, in vloed.
Nadat die seekoeie die vorige aand gesien is, het mnr. Wassenaar gister die hele dag langs die dam deurgebring. Hy het ’n permit om probleemdiere van die Mpumalanga Toerisme en Parke Agentskap om probleemdiere te verwyder en is deur die MTPA gevra om die seekoeie dop te hou.
Die seekoeie was die hele dag buite sig en het laatmiddag eers kop gewys. Hy het blitsig ’n foto of twee geneem toe hulle effens uit die water gekom het.
Teen donker het hulle uitgekom en kon hy per nagsig sien dat sy teenwoordigheid in die omgewing hulle pla. “Ek het gery sodat hulle ongedeerd verder kon wei.”
• Daar was bespiegelings dat dit dalk ander seekoeie kan wees wat hul pad gevind het na eMalalhleni en nie die seekoeie van Middelburg nie.
Mnr. Wassenaar het gemeld dat dit ook nie onmoontlik kan wees nie, aangesien hulle moontlik weens die onlangse besoedeling in die Wilgerivier kon uitgewyk het.
• Mnr. Bernard van der Berg (komiteevoorsitter, Middelburg Dierebeskermingsvereniging) het sedert die seekoeie in Middelburg die eerste keer gesien is, hul bewegings dopgehou vir die MTPA en sê hy glo nie dis ander seekoeie nie. Hy meld dat al die mense wat hulle in die areas gesien het langs die Klein Olifants in die Middedorp, Eastdene en ook later by die kwekery, die diere nog nie weer opgemerk het nie.
Mnr. Van der Berg is van mening dat dit beslis Middelburg se seekoeie is wat in eMalahleni gesien is.
Hy vra dat indien enige persoon moontlik ’n karkas sien van die seekoeikalfie of die kalfie iewers sien ronddwaal, om hom te bel by 082 769 0227.
