Gate in voorruit van voertuig in rivier moontlik koeëlgate
Polisie en reddingswerkers bespiegel dat die voertuig wat tans heeltemal verberg in die Klein Olifantsrivier lê, moontlik 'n moordtoneel kan wees

. Daar is gate in die windskerm en wonder almal of dit koeëlgate of klippe kon wees wat die gate veroorsaak het in die voertuig se pad af water toe.

Mense wat besig was langs die rivier met ‘n godsdienstige ritueel het vroeër vandag die voertuig, wat op daardie stadium nog vensterhoogte in die water was, gesien. 
Hulle het gejaag na werkers by die Munisipale Magasyn, wat hulle na die toneel, tussen die bruggie in Proteastraat en die verkeerslig in Mhluzi, gehaas het.
Met hul aankoms, het hulle ook die gate in die windskerm gesien, maar met die sluise wat oop is, het die voertuig baie vinnig onder die water verdwyn. Hulle kon ook sien dat een van die kar se deure oop is. 
Munisipale polisielede, verskeie insleepdienste, die brandweer, polisie en lede van die gemeenskapspolisiëringsforum werk al vandat hulle gehoor het daar is ‘n voertuig in die water, saam om by dit uit te kom.

Mnr. Herculaas Taljaard (GPF-lid) het omgery en aan die ander kant gaan wag en is daar talle kere ‘n tou na hom gegooi om te kyk of hulle nie ‘n hak aan die voertuig kan vaskry nie.
Brandweerlede is ook soontoe om hom by te staan. 
Later is daar met visstok lyn oorgegooi en die veiligheidstoerusting oorgetrek.
Aangesien baie van die watervleuel se lede in Kwazulu Natal help met die oorstromings, kon daar nie dadelik ‘n duiker uitkom nie. Daar is egter een van hul lede tans op die toneel. 
Lede van die Nasionale Seereddingsinstituut se tak in eMalahleni het ook hul hulp aangebied en is een van die lede met reddingstoue die rivier in om te kyk of hy kan induik by die kar om te kyk of daar mense in die voertuig is.
Die waterstrome was egter te sterk en het hom saamgetrek en kon hy nie in die voertuig inkyk nie. 
Die Middelburgdam se sluis is egter intussen ook toegemaak om die strome te verminder en het reddingswerkers pas laat weet dat die watervlak bietjie gesak het.
Kapt. Johan Grobler (Duikpunt Bevelvoerder, Nkangala Streek) het laat weet dat hy ook op pad is na die toneel.

