News

Voertuig vlieg deur lug, man opslag dood in ongeluk

’n Man is opslag dood en ’n ander moes met die kake-van-lewe uitgesny word, na na ’n ongeluk gistermiddag op die N4, net voor Alzu.

Die ongeluk het reg voor die oë van mnr. Francois Haarhoff en me. Lena van der Merwe gebeur. Mnr. Haarhoff was vanaf Middelburg op pad na Belfast, toe die ongeluk voor hulle gebeur het.

’n Bakkie van die Hurricane maatskappy (Pretoria) het voor hulle gery. Die volgende oomblik het die bakkie se linkerwiel gebars.

“Die bakkie het links oor die soom van die pad beweeg en deur die lug gevlieg. Daarna het hy buite beheer oor die middelman gehop en reg voor die Van Wettenstrok beland.”

Met die impak het die bakkie weer omgeswaai en in dieselfde rigting as die trok, half onder die trok, tot stilstand gekom.

“Die bestuurder van die trok kon niks doen, om die ongeluk te vermy nie.”

Mnr. Haarhoff het dadelik sy voertuig tot stilstand gebring en oor die pad gehardloop, om hulp te verleen.

Me. Van der Merwe het die nooddienste ontbied en met WhatsApp vir hulle ’n pin-aanduiding gegee waar hulle was. Mnr. Haarhoff sê hy het eerste gehardloop na die bestuurder van die bakkie en vir ’n pols gevoel.

Duncan Mashego is in die ongeluk opslag dood.

“Die man is opslag dood.”

Die passasier van die bakkie het uitgeklim en hinkepink op die toneel rondgeloop. Die bestuurder van die Van Wettenstrok, mnr. Mandla Masilela, was egter vasgepen in die kajuit.

“Ek was op ’n stadium bang dat die bakkie aan die brand gaan slaan en dat die man in die trok saam gaan verkool. Ek het gelukkig gesien dat dit stoom is van die verkoeler.”

Mnr. Haarhoff het die trok se deur probeer oopmaak, maar dit was weens die ongeluk onmoontlik om dit te beweeg.

Hy onthou dat daar op daardie stadium twee vroue aangestap gekom het. Die een het haar voorgestel as ’n dokter, maar ook sy kon sien dat die man agter die stuur van die bakkie dood is.

Met die brandweer se aankoms, het hulle mnr. Masilela met die kake-van-lewe bevry.

Die takbestuurder van Van Wettens Middelburg, me. Magda Pretorius, sê mnr. Masilela het sy heup gebreek en het ook ’n fraktuur in sy onderbeen. Sodra die swelling gesak het, sal ’n operasie gedoen word.

Mnr. Masilela werk reeds 12 jaar vir Van Wettens Middelburg.

• Die bestuurder van die bakkie is deur sy werkgewer, mnr. Stuart Mackie (Silver Falcon Hurricane) geïdentifiseer as Duncan Mashego.

“Hy en Lawrence Molefe was op pad om ’n installasie in Nelspruit te gaan klaarmaak, toe die ongeluk gebeur het. Duncan het bykans 20 jaar vir ons gewerk. Hy was ’n harde werker en baie betroubaar. Ons kliënte het baie van hom gehou en hy het alle opdragte stiptelik uitgevoer.”

• Lawrence het ligte harsingskudding en skok opgedoen. Hy kla ook van ’n seer arm. Hy is ook per ambulans hospitaal toe geneem, maar is na behandeling ontslaan.

Back to top button