News

Munisipaliteit sit self vas in moddermassa

“Die munisipaliteit sit met bloed op die hande,” sê woedende kleinsake ondernemings bemoeid met vullisverwydering in die dorp.

Die beskuldiging volg op die dood van ’n sakgrawer Maandag by die dorp se hoof stortingsterrein, nadat die man in ’n munisipale kompakteerder beland het.
Die man is saam met die vullissak wat hy probeer gryp het, by die kompakteerder ingetrek.

Die besighede, wat almal saamgespan het en aandring op ’n vergadering met die munisipaliteit, sê die munisipaliteit het alle beheer by stortingsterrein aan ’n onbevoegde kontrakteur van Mbombela oorgegee.

“Ons kla al maande dat die omstandighede by die stortingsterrein gevaarlik is vir almal, en ’n man het nou sy lewe verloor, omdat die munisipaliteit tot dusver versuim het om na ons griewe te luister, nie net die kontrakteur nie, maar koppe in die bestuursafdeling van die vullis departement moet rol.”

Die modderpaaie en hope vullis wat bloot enige plek afgelaai word, maak toegang bykans onmoontlik.

Die spanning tussen kontrakteurs en besigheidseienaars is verlede week op die spits gedryf, met ’n vurige onderonsie by die stortingsterrein, wat volgens die besigheidseienaars, gereeld gebeur.

In die voorval is die Tuindrom diensverskaffer met geweld gedreig, nadat hy bloot instruksies van kontrakteurs bevraagteken het.

In ’n ander geval is ’n ander vullisverwyderingsbesigheid toegang tot die terrein geweier, omdat hy ’n week tevore nie ’n koepon ingehandig het nie.

Voormalige munisipale bestuurder, advokaat Bheki Khenisa, het voor sy vertrek in Maart, onderneem om met die besighede te ontmoet, sodat daar gehoor aan hul klagtes gegee kon word.

Die vergadering is nooit gehou nie en probleme is nou veel erger, selfs dodelik.

Met die baie reën is die paaie onbegaanbaar, en kan selfs munisipale voertuie nie daar in nie.
Voertuie, insluitend die munisipaliteit s’n, val gereeld vas en moet dan uitgesleep word.

Besighede kla dat die voertuie wat ingespan word om die ashope plat te stoot en te kompakteer, selde werk weens herstelwerk en ’n tekort aan brandstof.

“Hulle trek bloot skouers op en dwing ons dan om na die mees herbergsame plekke op die ashoop te gaan aflaai,” kla die besighede uit een mond.

Die koerant is nou al maande deel van ’n WhatsApp-groep waar minstens 20 vullisverwyderingsbesighede daagliks klagtes rapporteer en vir ander lede terugvoering gee oor die toestand van die terrein.

Net nog ’n gewonde dag op Middelburg se asgate vir klein besigheidseienaars wat deur damme modder moet wroeg.

’n Kontrakteur is aangestel om die terrein namens die munisipaliteit te bestuur. Hulle het alle navrae na die munisipaliteit verwys.

“Die probleem is ons kla ons stemme weg terwyl die munisipaliteit ongeërg is oor ons klagtes,” sê die besighede.

“Ons moet ’n koepon per vrag indien, van ons besoek die perseel tot vier keer ’n dag, en daar aangekom word jy soos ’n krimineel behandel, opdragte word geskreeu en personeel sit selfs en drink,” word gekla.

Verder is die rondkrappery op die stortingsterrein onwettig, en rye sakgrawers is Dinsdag die eerste maal in jare, die terrein verbied.

Besigheidseienaars dring daarop aan dat ’n nuwe kontrakteur aangestel word.

’n Petisie en moontlike protesaksie na die munisipaliteit word ook oorweeg, sou die munisipaliteit nie daadwerklike planne aankondig om die stortingsterrein reg te ruk nie.

“Meer mense gaan sterf,” waarsku die besighede.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Back to top button