Kersprojek vir kinders in Noord Kaap groei
Die hoop geskenke vir arm kinders in die Noord Kaap groei by die dag!
Middelburger Soretha Oosthuizen het vroeër vanjaar mooi gevra dat mense haar geskenkprojek vir kinders in die armer gemeenskappe rondom Port Nolloth sal ondersteun en sy is verras met almal se warm harte.
Haar man, Willem, werk in Alexanderbaai (Noord Kaap) en sy gaan kuier elke jaar oor Kerstyd by hom in Port Nolloth.
Sy het met haar vorige besoek gesien daar is baie arm kinders in dié gebied en hulle het lekkergoedpakkies opgemaak wat die kinders met dankbare trane ontvang het.
Verlede jaar het sy besluit dat Kersfees 2022 baie spesiaal gaan wees vir elkeen van daardie kinders.
In Januarie het sy al begin geskenkies bymekaar maak en sy het bokse vol geskenke wat al toegedraai staan en wag. Dit sal met ’n waentjie afgesleep word oor Kerstyd.

Sy het egter nog oorgenoeg plek vir enige geskenkies vir kinders vanaf baba- tot 13-jarige ouderdom.
Van klere en skoene tot badkamerbenodigdhede (waslappies, sepies, tandeborsels), DVD’s met kinderverhale, speelgoed, juwele en gesigroompies vir tienerdogters en skryfbehoeftes, kan geskenk word.
“Ons het al heelwat goedjies vir dogtertjies gekry en vra dat mense asseblief ook geskenkies of klere vir seuntjies en tienerseuns moet skenk.”
Soretha sê mense is welkom om hul eie geskenkpakkies op te maak en toe te draai. Hulle moet net op die pakkie ’n plakker sit om te sê vir watter ouderdom kind en of dit vir ’n seun of dogter is.
Selfs netjiese tweedehandse artikels is welkom.
Omdat sy self hope geskenke moet toedraai, kan mense geskenkpapier en kleefband skenk, as hulle op dié manier betrokke wil raak.
Soretha sê hulle aanvaar geen kontant nie.
“As iemand nie weet wat hulle moet koop nie, kan hulle net bel ek ek sal sê wat ons die nodigste het.”
• Mense wat betrokke wil raak, kan haar bel by 072 272 5337.
• Sy het aangedui dat sy op ’n gereelde basis vir www.mobserver.co.za op hoogte sal hou van hoe hul geskenkprojek vorder.
