Gewapende rowers slaan toe in Aerorand
’n Vrou is vanmiddag helder oordag van haar handsak beroof, in haar eie huis in Aerorand.
Middelburg GPF, Mid-Alarms en die Polisie, het hulle na die toneel in Umfolozistraat gehaas, nadat die huiseienaar alarm gemaak het.
Die slagoffer, wat versoek het om anoniem te bly, sê dat hy agter in sy erf besig was, toe hy harde geluide, wat soos skote geklink het, hoor.
Sy honde het hek toe gehardloop en hulle huishulp het gaan ondersoek instel. Sy het stomgeslaan om die draai gehardloop gekom.
“Ek het bly vra wat het gebeur, maar sy kon nie praat nie.”
Hy het deur die huis gehardloop en gehoor dat sy vrou so pas van haar handsak beroof is.
“Gelukkig het sy niks ernstig oorgekom nie, maar ’n handsak het mos alles in.”
Die eienaar het gesê dat sy vrou vermoedelik deur die rowers agtervolg is toe sy gaan inkopies doen het. Toe sy die hek oopmaak, het hulle ingeglip.
“Mens wil ander waarsku om oplettend te wees. Ons is al vantevore agtervolg.”
