Pastoor wou waterbronne na woongebiede vergiftig
Harry Knoesen wat teregstaan op klagtes van terrorisme en hoogverraad, het vandag so byna sy advokaat, mnr. Musa Mavasa, in die pad gesteek, toe hy hoor hy sal nie self die staat se eerste getuie, kolonel Danie Hall van die Valke, sal kan ondervra nie.
Hy is egter voor ’n moeilike keuse te staan gebring, naamlik dat hy finaal sal moet kies of hy homself wil verteenwoordig, of nie.
Die hof het Knoesen weer gewaarsku dat hyself te emosioneel betrokke is by die saak waarop hy lewenslange gevangenisstraf opgelê kan word.
“Jy gaan nie die klagtes teen jou beveg nie, maar die getuies in die getuiebank, dit is nie hoe dit werk nie,” het die regter hom berispe, voodat Knoesen ingestem het om advokaat Mavasa te behou.
Die staat was weer oorbluf nadat kolonel Hall minder as ’n uur lank kruisverhoor is, omdat Knoesen aan die staat gesê het dat hy minstens drie dae nodig sal hê vir kolonel Hall, voor advokaat Mavasa se aanstelling.
Die hof is tot na middagete verdaag waarna Marius van der Westhuizen, ’n afgetrede intelligensiemag veteraan, as die staat se tweede getuie geroep is.
Hy het getuig dat hy Knoesen minstens vyf jaar lank ken, omdat hul vroue saam by ’n plaaslike veearts gewerk het.
Knoesen het hom na ’n Crusaders vergadering in Boekenhoutstraat genooi, waar hy “sy aanvalsplan blootgelê het”. Die plan was om waterbronne na swart woongebiede te vergiftig.
Daarna sou weermagbasisse en polisiestasies met geweld oorgeneem word. Swart weerman en polisielede sou ontwapen “en uitgesorteer word”.
Alle buitelanders sou dan bymekaar gemaak word en op busse en treine grensposte toe gestuur word vir deportasie. Die busse en treine sou egter deur lugaanvalle voor die grensposte gebombardeer word.
Bomme sou ook in swart woongebiede afgesit word, “om minstens 30 miljoen swartes in die eerste twee dae te vermoor”.
Volgens Knoesen sou die massamoorde wit volkgenote wat nie by die aanvanklike Crusaders plan van ’n staatsgreep ingeval het nie, oortuig om die plan te ondersteun. Die nuwe lede sou dan gebruik word vir die “beskerming van hul eie huise en strate”.
Mnr. Van der Westhuizen sê dat hy Knoesen se planne aangemeld het, waarna ’n ondersoekbeampte aangestel is.
“Ek het geglo hy is ernstig, hy was passievol en het verskeie maal my raad om die planne te laat vaar, van die hand gewys”.
Knoesen was bewus daarvan dat mnr. Van der Westhuizen ’n polisieman was en hom versoek om die Crusaders leierskap in Middelburg oor te neem.
Die saak word more hervat met kruisondervraging van mnr. Van der Westhuizen.