News

Geen vryheid vir dié ma en kinders, want man se moordenaar loop steeds vry rond

Vir Bianca Coetzer is Vryheidsdag nie ’n dag van vreugde en feesvieringe nie, maar ’n dag van smart.

Sy het met trane in haar oë opgestaan, want op hierdie dag is haar man vermoor. Die ergste, sy weet wie die moordenaar is, maar hy loop steeds vry rond.

“Ons seuntjie is al sewe jaar oud en is op medikasie, omdat hy steeds nagmerries kry oor die dag wat sy pappa voor sy oë doodgeskiet is. Hy roep aanmekaar in sy drome na sy pa.”

Vandag, presies vier jaar gelede is Gerhard Coetzer (29) tussen partytjiegangers by ’n huis in Walter Sisulustraat (Middelburg) doodgeskiet.
Die partytjiegangers lieg, volgens sy vrou, vandag nog oor wat daar gebeur het.

Almal by die partytjie is beveel om te vertel dat daar rowers was en dat hulle op mnr. Coetzer geskiet het.
Bianca is aangesê om dieselfde te vertel.

Sy is gedreig dat as sy nie by die plan hou nie, hulle sal vertel sy het haar man geskiet.

Sy is later dieselfde dag terug polisie toe om vir hulle te sê wat werklik daardie dag gebeur het. Hulle wou haar nie glo nie.
Klein Ronaldo was op daardie stadium drie jaar oud en het in die rigting van die groep gekyk, toe sy pa geskiet is.

Me. Coetzer en die joernalis het vir meer as nege maande gesukkel sodat die polisie ’n forensiese maatskaplike werker kon stuur om met Ronaldo te praat oor die gebeure.

Me. Bianca Coetzer met haar kinders Biané (een van die dae vyf) en Ronaldo (7). Sy pleit by almal wat by die partytjie was waar haar man doodgeskiet is, om vorentoe te kom en die waarheid te praat.

Nadat hulle uiteindelik met hom gewerk het, het me. Coetzer verskeie kere daarna navraag gedoen.

“Hulle het vir my gesê hy was te klein om tussen reg en verkeerd te onderskei. Toe ek weer navraag doen, is ek duidelik laat verstaan ek pla hulle, want hulle is besig met die ondersoek,” het sy vanoggend hartseer gesê.

“My kind weet wie die skuldige is en ek glo hy herleef wat daar gebeur het, want hy het nog nooit weer ’n nag deurgeslaap nie. Ek praat nie met hom daaroor nie, maar hy rol die hele nag rond.”

’n Man, wat hulle baie goed geken het, het met ’n wapen gespeel. Die eerste skoot is deur ’n buitekamervenster en die tweede skoot het haar man getref.
Hy het net ’n paar treë geloop, geval en gesterf.

Buiten me. Coetzer en die beskuldigde was daar ook twee ander mans en kinders. Die ander vroue was dorp toe om iets te gaan koop.

Die beskuldigde het me. Coetzer gegryp, haar vasgehou en beloof dat hy vir haar en die kinders “sal sorg” as sy saamspeel met die “roofstorie” maar dat hy sal sê sy het haar man geskiet, sou sy nie saamstem nie.

Die hele ondersoek van die toneel is deur die polisie opgemors.

Me. Coetzer het destyds gesê sy kon nie glo dat die polisie die roofstorie geglo het nie, aangesien die kinders nog in die swembad was met hul aankoms. “As daar rowers was, sou die ouers mos die kinders uit die swembad gehaal het en hulle na veiligheid gevat het!”

Van die partytjiegangers is toegelaat om die toneel te verlaat en weer terug te keer, sonder dat balistiese toetse gedoen is. Sy glo dit is in hierdie tyd dat die persoon van die wapen ontslae geraak het.

Die polisie het later erken dat hulle die koeëlpunt in die buitekamer gekry het, maar tot vandag toe nog is daar nooit weer iets daaroor gerep nie.
Selfs nie eers nadat ’n persoon later gesê het dat dit nie die eerste keer is dat die man onverantwoordelik met ’n wapen voor mense gespeel het nie.

Me. Coetzer het ’n ruk gelede een van die partytjiegangers, wat sy persoonlik ken, gekonfronteer en gevra waarom hy nie uitkom met die waarheid nie.
“Hy het vir my gesê hy was daardie dag te dronk om iets te onthou!”

Haar hart is ook seer dat mense wat veronderstel is om om te gee vir kinders, “want hul kinders was ook daar”, so blatant kan jok en al vir vier jaar met die leuen saamleef.

“Ek wil pleit by hulle om die waarheid te praat, nie net ter wille van my en my kinders nie, maar ook ter wille van jou en jou kinders se gewetes!”

• Afriforum se privaat vervolgingseenheid, onder leiding van Gerrie Nel, het verlede jaar laat weet dat hulle mnr. Coetzer se saak sal laat hersien.
Hulle het onlangs navraag gedoen by die aanklaers.

Daar is gesê dat die dossier op 22 Februarie 2021 al teruggestuur is vir die ondersoekbeampte vir uitstaande navrae.

Die dossier is nog nie weer terug gekry vir die navraagklerk by die hof om voorgelê te kan word aan ’n magistraat nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button