President se jet gee dorp se voëls angsaanvalle
Wanneer die president van Suid-Afrika, sy eksellensie Cyril Ramaphosa, opdaag op jou dorp... Dan kom alles tot stilstand.
Jy word trakteer op bloulig konvooi op bloulig konvooi, natuurlik begelei deur alles wat twee wiele het.
Dit is net sirenes en pikswart karre, van vroeg vanoggend af, op Middelburg.
Paaie is om die Kees Taljaard Stadion gesluit, waar die president oor sowat ’n uur praat en inwoners het van vroegdag af in verskeie padblokkades vasgery.
Die pret het reeds Saterdag begin met slaggate wat skielik gevul is en bome is in hul honderde gesnoei en die takke nie net weggery nie, maar eers deur ’n houtmeule gegooi.
Nee die Russe is nie op ons nie!
Maar die Suid-Afrikaanse lugmag se vegvliegtuie wat ’n dag voor die Prez se aankoms hul lugmaneuvers tot die onsteltenis van Middelburg se suurknolle oefen.
Vandag gaan omtrent ’n magsvertoon wees bo die koppe van 2000 geselekteerde gaste, wat Vryheidsdag saam met die Prez by die Kees Taljaard Stadion vier.
Een inwoner was ontsteld oor die “geraas van die jets” omdat dit angs by die voëls veroorsaak.
Volgens me. Gina Lehman is Middelburg se diere glad nie beïndruk met die hooggeplaaste besoek nie.
Willie Lazenby het www.mobserver.co.za versoek om ’n berig te doen oor “die jet vlieënier wat besig is om met geraas duisende mense in Middelburg te steur, wat op hul werk probeer fokus”.
Alida Stoltz is ’n groot aanhanger en sê: “Hulle gaan vandag weer vlieg. Hou die lug dop vanaf 10:45 tot 11:15, terwyl Sue Venter straal: “Dis ons land se trots”.
Plaaslike prokureur, Josef van Eeden, las by: “Die Aerobiese span van die lugmag vlieg die Hawks. Gripens sal jy nie sommer by so iets sien nie, hulle is te duur om in die lug te hou”.
Maar volgens me. Lehman sou ’n donkiekar “baie meer prakties, ekonomies en gepas gewees het, dink aan die babas,” las sy by.
Met Eliza Janse van Rensburg meen “die jet se geluid is die hoogtepunt van die hele gedoente”.
Elsie Fourie moes egter haar hond ’n pilletjie injaag.
Middelburg se oë sal beslis vandag na die hemelruim staar, dis nie aldag dat so iets hier gebeur nie.
Skippie Maree het so bietjie insig gebied: “Dit was ’n British Aerospace Hawk Mk 120. Ek weet nie of ons SAAB Gripen’s geground is nie”.
Regina Dercksen het weer haar hoop uitgespreek dat die president die Middelburg Hospitaal sal besoek, “waar soveel mense doodgaan”.
Ander nooi president Ramaphosa weer industriële gebied toe, om die slaggat nagmerrie daar te aanskou.
’n Inwoner het selfs gebel om te vra of ons nie vir president Ramaphosa kan vertel dat die dorp ’n top duiweklub het nie, “want die president is self ’n ywerige duiweboer”.
Natuurlik sal ons probeer om al die versoeke aan die president oor te dra. maar as ons kyk hoe gesukkel dit was net om media akkreditasie te kry, het ons nie veel hoop nie.
Www.mobserver.co.za is natuurlik heeldag by Kees Taljaard om oor die skouspel te berig en is darem uitgenooi vir ete saam met die president. Daar sal ons wel vir hom sê van die negejarige tweeling wat gebel het, om te vra ons moet vir die president vertel hy doen ’n goeie werk!
NB – Pasop net vir die speedies, vandag is hulle op elke hoek noudat die bome nie meer koelte bied nie.
