Rower trek sneller van pistool toe hy in huiseienaar vasloop
’n Rower het ’n 9mm pistool se sneller getrek toe hy in die huiseienaar vasloop...maar toe stoor die wapen.
Jannie Venter glo vandag ’n ‘Groter Hand’ het beskik dat die wapen stoor.
Dit het hom geleentheid gegee om sy vrou en kinders na veiligheid te neem.
“Geloof is sterk in ons huis. Na die gebeure het my vierjarige dogtertjie, Jané, gevra of die ‘lelike ooms’ hemel toe sal gaan. Ek het verduidelik dat as hulle kans kry om jammer te sê glo ek so. Haar antwoord was: ‘pappa, daar was ’n lelike oom saam met Jesus op die kruis ook en hy is saam met Hom hemel toe.”
Mnr. Venter is dankbaar dat hy gespaar is om oor die gebeure te getuig.
Hy en sy vrou, Corné was die middag by sy skoonouers. Sy skoonpa, Dolf Reinecke, het omstreeks 18:00 saamgery, na hulle toe in Pilansberg (Aerorand) om iets te gaan haal.
Tuis het hulle die kinders gereed gekry vir die bed.
Die volgende oomblik het almal ’n geweldige slag gehoor.
Me. Venter is die gang af, om te kyk wat aangaan.
Op dieselfde oomblik het ’n rower om die hoek gekom.
Sy het by die kinders se kamer ingeglip, waar die kinders was en die deur gesluit.
Mnr. Venter het hom ook gehaas na die gang en vasgekyk in ’n rower met 9mm pistool in sy hand.
Die rower het die sneller getrek, maar die wapen het gestoor.
“Ek dink hy het van skrik die sneller getrek, want hy het nie verwag dat ons by die huis was nie. Ek het vir hom gevra hy moet asseblief my familie uitlos. Terwyl hy die wapen weer oorgehaal het, het hy gesê: ‘Get your wife and make it quick.’ Daarna het ek begin bid en ons genade in die Heer se Hand gesit.”
Hy is saam met sy vrou en kinders by die kamer in en het die deur gesluit.
Mnr. Venter weet nie hoe lank die rowers nog in die huis was nie, maar dit het hom en sy vrou die kans gegee om met hul selfone hulp te ontbied.
Me. Venter het haar pa gebel en daarna ’n nood stemboodskap op die WhatsApp groep, “M’burg Waarsku Mekaar” gelos. ’n Sneeubal reaksie het gevolg: Verskeie mense het mekaar gebel om hulp te verleen.
Chris van der Walt (Titon Sekuriteit) was blitsig op die toneel. “Hy het fantasties gereageer.” Hy het ook later gereël dat hul alarmkwessies uitgesorteer word.
Hy het die volgende aand ook by hul huis kom wag.
Sy skoonpa, swaer Stefan en broer Danie, was net so vinnig soos Chris daar.
• Mnr. Venter sê na aanleiding van die stemme wat hy in die huis gehoor het, vanaf hul kamer, was daar ten minste drie rowers.
Hulle het net die een gesien.
Daar moes egter nog ’n persoon buite in die voertuig gewag het, aangesien hulle later gehoor het dat daar ’n silwer sedan in hul oprit gestaan het.
• Mnr. Venter glo dat die Here hulle die aand beskerm het.
Hy sê dat die booswigte waarskynlik al toe hulle weg was, ’n baksteen uitgebreek het, waaraan die veiligheidshek vas was.
Die slag wat hulle gehoor het, was toe die rowers die houtdeur oopgeskop het.
“Die Here het dit so beskik dat ons dogtertjie daardie aand ook nie voor in die sitkamer gesit het, waar sy gewoonlik tot so 19:00 televisie kyk nie. Daardie aand wou sy in die kamer by ons lê. As sy in die sitkamer was, sou ek moes baklei dat hulle nie naby haar kan kom nie en dan sou ek dalk seergekry het.”
Me. Venter sit altyd haar handsak in die kombuis. Dié keer het sy die handsak weens ’n onverklaarbare rede saam kamer toe gevat.
“As sy dit nie gedoen het nie, sou ons nie selfone gehad het om te kon bel, vir hulp nie. Die selfone was in haar handsak.”
Hulle vermoed ook dat die boewe nie geweet het hulle is daar nie, omdat hulle sy skoonpa sien ry het.
• Die egpaar bedank die volgende persone vir hul hulp en ondersteuning:
• Chris van der Walt en die span by Titon.
• Jacques Pieterse (J Pieterse Aluminium) wat moeite gedoen het om aluminium deure vinnig in te sit.
• Heino Smit (HS Industries) vir die ekstra traliewerk vir die vensters.
• Thomas Nolan (Rooftop Construction) wat kom help het om alles reg te maak.
“Ons wil ook dankie sê vir elke liewe persoon wat hul eie lewens in gevaar gestel het om hulle na ons huis te haas, om ons te kom bystaan. Hier was so baie mense, dat ek bang is om name te noem. Weet net dat ons dit waardeer.”
• Mnr. Wimpie Venter (Jannie se broer) was op ’n toer in die Kaapprovinsie en het van die gebeure verneem. Hy het vir BJ Vorster (Mid Alarms) gebel, wat ook van hul kant af bereid was om te help om reaksielede uit te stuur, al is die gesin nie lede van die sekuriteitsfirma nie.
• Huisrowers het Maandagmiddag ook toegeslaan by ’n ander huis in Aerorand en ’n vrou van haar handsak beroof.
Sy het gelukkig nie beserings opgedoen nie.
Lees storie hier: https://www.citizen.co.za/middelburg-observer/158827/gewapende-rowers-slaan-toe-in-aerorand/
