Man wat in ongeluk sterf het ’n hart van goud gehad
Dolf Labuschagné (52), wat vir drie jaar ’n reaksielid was by Mid Alarms en die laaste maand by ’n taxidiens gewerk het, het gisteraand in ’n ongeluk op die hoek van Walter Sisulu- en Hobsonstraat gesterf.

’n Ooggetuie het vertel dat die lig oranje was vir die voertuig waarin hy en me. Magda Lewis gery het en dat hulle ingedraai het in Hobsonstraat.
’n Aankomende Fortuner het egter ook oor die oranje lig gery en hul voertuig op die linkerdeur getref.
Die ooggetuie sê dat albei bestuurders waarskynlik gedink het dat die ander voertuig gaan stop.
Beide mnr. Labuschagné en me. Lewis het op die toneel gesterf.
Me. Stephanie Pottas, eienaar van JDM Taxidienste, sê hulle is almal soos een groot familie by JDM Taxidienste.
“Oom Dolf was ’n goeie man, wat vir lank ’n kliënt was en onlangs by my begin werk het. Oom Dolf en tannie Magda laat ’n groot leemte agter.”
• Mnr. André Wessels (Mid Alarms) sê mnr. Labuschagné was vanaf Augsutus 2019 tot Januarie 2022 ’n reaksielid by Mid Alarms.

“Dolf was altyd op sy pos. Mense sal hom veral onthou waar hy diens gedoen het by Roberts Estate. Hy was so ’n netjiese, eerlike man.”
• Mnr. Labuschagné se dogter, Rochelle, onthou hoe opgewonde hy saam met hulle uitgesien het na die koms van haar derde seuntjie in Juliemaand.
Sy het haar pa beskryf as “’n saggeaarde mens, wat baie liefde gehad het om te gee. Hy het altyd tyd gehad vir ’n grappie.”
• Mnr. Labuschagné se suster, Ansie Appelgryn, onthou hoe hy nog die Paasnaweek by hulle gekuier het.
“Dolf was ’n oudleerling van Middelburg en was baie lief vir sy dorp. Hy is onlangs Vereeniging toe, maar het besluit om terug te keer na die dorp waarvoor hy so lief was. Hy het ’n hart van goud gehad en het altyd sy beste vir almal gegee.”
• Me. Olga Smith (bestuurder, Koppiestraat Behuisingsprojek) het ook net die mooiste herinneringe aan mnr. Labuschagné.
Hy het voor die Covid pandemie by Koppiestraat gebly.
“Dolf was ’n awesome mens. Hy kon die lekkerste braairys maak en kon so lekker kook.” Sy het haar simpatie teenoor sy familie uitgespreek.
Mnr. Labuschagné word oorleef deur sy kinders, Michael en Rochelle, skoonseun Johan, kleinseun Hanro en Rohan, broer Jan, susters Ansie Appelgryn en Dorie Olvier, familie en vriende.
• Beide families is nog besig om begrafnisreëlings te tref.