News

Ooggetuie van noodlottige ongeluk vertel wat gebeur het

’n Vrou, wat in die glipweg vir verkeer gewag het, het gisteraand die ernstige ongeluk op die hoek van Walter Sisulu- en Hobsonstraat sien gebeur.

“As ek sekondes later gery het, van waar ek gekom het, was ek ook in die ongeluk betrokke,” het me. Sonja de Lange vanoggend gesê.

Sy wou indraai in Walter Sisulustraat, vanaf die glipweg in Hobsonstraat en het ’n wit karretjie van die taxidienste vanaf die dorp se rigting sien kom.
In die volgende paar sekondes het sy ook in haar truspieëltjie ’n Fortuner gesien wat vanaf die ou Witbankpad af aangery gekom het.

“Die lig was oranje en ek het ’n toeter hoor blaas en besef dit is die persoon in die Fortuner wat die toeter blaas.”

Me. De Lange sê die wit karretjie het eers rem getrap en na regs ingedraai in Hobsonstraat, waarna die Fortuner die karretjie op die linkerdeur getref het.

Sy vermoed die persoon in die wit karretjie het aangeneem dat die Fortuner gaan stop by die oranje lig. Op haar beurt het die bestuurder van die Fortuner waarskynlik weer gedink dat die wit karretjie gaan stop en albei het aangehou ry.

Met die impak het die wit voertuig omgeslaan.

Me. De Lange ken lede van insleepdienste en het hulle dadelik gebel en gevra dat hulle die brandweer en ambulansdienste na die toneel ontbied.

Die man en die vrou in die wit voertuig is albei op die toneel oorlede en die bestuurder van die Fortuner is per ambulans hospitaal toe geneem.

• Me. De Lange sê sy was só geskok na die gebeure dat haar man toe sy tuiskom, vir haar suikerwater moes gee.

“Ek het nie nader gegaan nie, sodat die nooddienste hul werk kon doen. Ek was later die aand baie ontsteld toe ek verneem dat altwee die mense in die wit karretjie oorlede is.”

Familielede van een van die oorledenes het gesê hulle is op pad na www.mobserver.co.za om meer inligting oor die ongeluk en hulle geliefde te gee.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button