News

Knoesen speel Hollywood draaiboeke uit in opspraakwekkende terrorisme verhoor

Harry Knoesen sal Dinsdag in die getuiebank inskuif, nadat die hoogverraad en terrorisme verhoor teen hom Woensdag, op sy aandrang, tot volgende week uitgestel is.

Knoesen het tydens die hofverrigtinge aangedui dat hy geen getuies ter verdediging gaan roep nie, nadat die staat sy saak na middagete gesluit het.

Hy is weer verskeie maal deur regter Johanna Mthimunye berispe om nie uitgerekte stellings te maak nie, maar kort en kragtige vrae aan die ondersoekbeampte in sy saak, kaptein Jaco Koekemoer, te stel.

Knoesen het egter eerder die geleentheid vir kruisondervraging gebruik om kaptein Koekemoer telkemaal te beledig.

Kaptein Koekemoer het aangevoer dat Knoesen, as hoof van die Crusaders, gearresteer is om ’n onmiddellike terrorisme aanval, waarin Knoesen 30 miljoen swart Suid-Afrikaners wou afmaai, af te weer.

Sy arrestasie sou glo ’n rippel-effek hê op sy volgelinge, om van hul aanvalsplanne af te staan.

Riana Heymans, die administrateur van die Crusaders se sosialemedia groepe, se arrestasie sou volgens kaptein Koekemoer dadelik kommunikasie op die terrorismegroep se kanale stopsit.

Knoesen het gesinspeel dat kaptein Koekemoer nie in diens van die land opgetree het nie, maar uit eie gewin, om sy verregse vriende tevrede te stel, deur Knoesen se propaganda-kanale te stuit.

Volgens Knoesen moet die howe eerder fokus op staatskaping en nie op ’n “eenman sirkus” nie.

Knoesen het kaptein Koekemoer ook gekritiseer omdat net hy gearresteer is, terwyl die Limpopo polisie in een optrede meer as 1000 kriminele bymekaar gemaak het.

Derik Rowles, vir die staat, het die relevansie van talle van Knoesen se uitlatings bevraagteken.

Op ’n stadium het beide Knoesen en kaptein Koekemoer gelyktydig gevra “het ek reg gehoor,” toe Knoesen die kaptein gevra het oor ’n lêer op sy skootrekenaar getiteld “Fooling Around” wat Knoesen sê die Crusaders se aanvalsplan bevat het.

Kaptein Koekemoer het getuig dat hyself nie Knoesen se skootrekenaar ondersoek het nie.

Hy was stomgeslaan dat Knoesen met sy vraag aan hom self erken het dat die aanvalsplan op sy rekenaar was, terwyl Knoesen op sy beurt verstom was oor die feit dat kaptein Koekemoer nie self sy rekenaar ontleed het nie.

Die kaptein het toe verduidelik dat hy nie ’n forensiese digitale ontleder is nie.

Regter Mthimunye het vir Knoesen gesê dat die hof kaptein Koekemoer nie kan kritiseer omdat hy protokol volg nie.
Knoesen het geantwoord dat indien sy aanvalsplan op die nippertjie gestop is, kaptein Koekemoer alle staande protokols moes systap.

Knoesen het kaptein Koekemoer “gestremd, dom of bloot ’n leuenaar” genoem, omdat die kaptein nie bewus was van al die Crusader vergaderings nie.

Op ’n stadium het Knoesen gevra waarom die taakmag tydens sy arrestasie balaclavas gedra het, en self geantwoord “om hul identiteite geheim te hou,” in opvolg kritiek oor kaptein Koekemoer se “swak speurwerk”.

Knoesen het selfs vir die hof verduidelik dat boeie dit makliker maak om te ontsnap deur te demonstreer hoe om polisiemanne in voertuie te oorrompel, deur die bestuurder van die voertuig van agter te verwurg met die boeie.

Regter Mthimunye het bloot geantwoord “volgende”.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Back to top button