Talentvolle tannie Babs oorlede
Tannie Babs Welman (84), wat haar vele talente in haar lewe met oorgawe uitgeleef het, is vanoggend oorlede.
Sy was die afgelope week in die Life Midmed Hospitaal waar sy vir hartversaking behandel en ook daar oorlede is.
Tannie Babs en haar man, Cedric, is welbekende inwoners van Kranspoortdorp.
Mnr. Welman het sy vrou beskryf as ‘n vrou wat altyd gewillig was om te help “en so lief was vir musiek.”
Sy was vir jare orreliste by verskillende kerke in die dorp, waaonder by NG Kerk Wes, die Anglikaanse Kerk, Holy Trinity en ook by Kranspoort.
As onderwyseres het sy haar liefde vir musiek, toneel en drama net so uitgeleef en het gehelp met verskeie operettes.
Sy het ook gereeld blomme rangskik vir funksies.
Die Welman egpaar was baie lief vir stap en het graag voetslaanroetes, soos die pragroete in die Drakensberge, gaan stap.
Hulle was 58 jaar getroud.
Buiten haar man, word me. Welman ook oorleef deur haar kinders Andor en Lanie, skoonkinders en kleinkinders.
Die gesin is nog besig om begrafnisreëlings te tref. Die plan is om die begrafnis volgende Donderdag te hou
