News

Besoedeling…en toe verdwyn seekoeie

Alhoewel die dorp se seekoeibul en -koei die afgelope tyd kort-kort anderkant eMalahleni gesien is, het niemand nog ooit weer die seekoeibaba, wat saam met hulle in Middelburg was, gewaar nie.

Mnr. Piet Wassenaar (eienaar, Presidio sekuriteitsfirma in eMalahleni) sê die twee seekoeie was vir ’n week in mnr. Jumbo van der Merwe se plaasdam op die Zaaiplaaspad.

“Terwyl hulle daar was, het hulle baljaar in sy groentetuin, maar hy was teleurgesteld toe hulle weer pad gevat het.”

Mnr. Wassenaar het ’n permit om probleemdiere te verwyder en is deur die Mpumalanga Toerisme en Parke Agentskap (MTPA) gevra om die seekoeie dop te hou, nadat hulle vanaf Middelburg koers gekies het eMalahleni se kant toe.

Nadat hulle hier weg is, is die seekoeibaba nooit weer gesien nie. Die vermoede bestaan dat hy óf in die Klein Olifantsrivier meegesleur is toe die Middelburgdam se sluise oopgemaak is, óf in die Olifantsrivier, toe hy in vloed was met Witbankdam se oop sluise.

Met hul vertrek uit mnr. Van der Merwe se plaasdam uit, is hulle vir ’n paar dae nie gesien nie.

Die seekoeie in mnr. Jumbo van der Merwe se dam.

Verlede Donderdag is mnr. Wassenaar gekontak met die nuus dat die seekoeie die vorige dag in ’n ander plaasdam op die Verenapad gesien is.
Mnr. Wassenaar sê hy is dadelik soontoe, maar hulle was reeds weg.

“Ek het net die spore gekry. Die dag toe hulle in die dam was, het baie mense gaan kyk en het die seekoeie weer pad gevat. Hulle het ’n klompie mielies plat getrap en die eienaar van die plaas het omgekrap gevra wie vir die skade gaan betaal.”

Die vermoede bestaan dat die seekoeie op pad is na die Wilgerivier waar dit aansluit by die Olifantsrivier. In hierdie area kom seekoeie nog natuurlik voor, maar na onlangse besoedeling, het die seekoeie ook verdwyn.

Kenners het gesê dat dit nie die seekoeie kon affekteer nie, maar mnr. Wassenaar noem dat ’n ander boer wat in daardie omgewing bly, gemeld het dat die seekoeie wat op sy plaas was, ook met die besoedeling verdwyn het.

Mnr. Wassenaar glo die seekoeie is nou weer op pad na daardie area.
Hy vra dat indien enige persoon die seekoeie opmerk, om hom te bel by 082 870 4124,

• Dit is baie vreemd dat seekoeie riviere oorsteek wat in vloed is.

Mnr. Wassenaar sê daar is mense wat spekuleer dat die seekoeie wat in eMalahleni se omgewing gesien is, moontlik nie dieselfde seekoeie is as wat in Middelburg opgemerk is nie.
Die seekoeie is egter nooit weer in die Middelburg omgewing opgemerk nadat hulle in die plaasdam duskant eMalahleni gesien is nie.

• Hy het vanoggend laat weet dat hulle gistermiddag met ’n heikopter na die seekoeie gaan soek het.
Daar is oor al die damme in die eMalahleni omgewing gevlieg, maar die seekoeie is skoonveld.

Back to top button