Lugtydboef bel weer dokters se spreekkamers
Die lugtydboef is nou ‘oom Hennie Viljoen’ wat ’n ou pasiënt was en vleis vir ’n dokter wil skenk.
“Ja, ek is gevang!” vertel mnr. Johan van Heerden, van George. Hy het eers besef wat aangaan, nadat hy meer as R1 000 se lugtyd vir “oom Hennie” oorbetaal het en mense op die Facebookgroep, “Georgiete Staan Saam” vir hom www.mobserver.co.za se berigte op die webtuiste gewys het.
Lees meer hier.
Mnr. Van Heerden vertel dat “oom Hennie” Woensdag die spreekkamers gebel het op George waar sy vrou werk.
Hy het gemaak asof hy ’n ou pasiënt is en vleis vir die dokter wil skenk.
“Oom Hennie het vertel hy verwerk, verpak en versprei vleis en dat sy koelkamer opgepak het. Hy het gevra of die dokter nie ’n beesagterkwart, halwe lam en ander vleis , alles netjies gesny en verpak, verniet wil hê nie, want hy wil dit nie weggooi nie.”
Mnr. Van Heerden sê die dokter jag self en het nie plek gehad vir vleis in sy vrieskas nie. “Die dokter het gesê my vrou moet dit maar neem.”
Sy het dadelik haar man (Johan) gebel en hy het vir “oom Hennie en tannie Elsie Viljoen gebel, wat gesê het ek moet die vleis anderkant Sedgefield gaan afhaal.”
Met sy ou truuks waarmee hy al hordes mense ingeloop het, het hy mnr. Van Heerden gebel toe hy al op pad is, en gevra of hy asseblief op Sedgefield sal stop en vyf Vodacom lugtyd bewyse van R275 elk kan saambring plaas toe, “want hulle wil nie spesiaal ry nie en hulle sal my vergoed as ek daar aankom.”
Mnr. Van Heerden, wat nog nooit van die lugtydboef gehoor het nie, het gestop en die lugtyd gekoop.
“Net voor ek uit Sedgefield ry, bel hy dringend en vra of ek asseblief die bewyse se nommers vir hom sal gee want sy trokke moet dadelik ry vir aflewerings. Ek val toe daarvoor en gee die nommers.”
Hy het gesê mnr. Van Heerden moet hom bel as hy verby ’n sekere landmerk (ou Kaasfabriek) kom, dan sal hy en die “tannie” hom kom langs die pad ontmoet met sy Land Cruiser.
“Nodeloos om te sê, toe ek bel was sy foon af en hy het verdwyn. Ek is R1,375 kwyt en geen verwerkte vleis nie. Ek is gewoonlik bedag en skepties en kan nie glo dat hy my so maklik om die bos kon lei nie. Hy het die dokter op sy naam genoem, maar ja, hy het seker Google Maps en ander sosiale media gebruik om alles mooi te beplan.”
• Die telefoonnommer wat “Oom Hennie” gebruik het, was 082 658 6265. Truecaller dui dit aan as: “Karin Gerstner”.
• Deur die jare is daar al tientalle berigte geskryf oor die man wat homself ook oom “Kallie” noem. Lees berig hier.
• Die joernalis van www.mobserver.co.za het selfs ’n opname gemaak terwyl hy probeer het om lugtyd uit iemand te kul. Lees meer daaroor hier.
• Ben Almero (National Crime Assist) het ’n paar jaar gelede die lugtydboef in ’n tronk in Bethal opgespoor nadat baie mense ingeloop is deur “oom Bertie”.Hy onthou sy van was “Coetzee.”
Mnr. Almero het sy stem herken na aanleiding van ons opname wat onlangs gemaak is.
• Dit is nie die eerste keer dat hy toeslaan op spreekkamers nie. Meer daaroor hier.
