News

Vyftienjarige meisie red jaaroue baba wat byna verdrink

'n Vyftienjarige oud Middelburger het gisteraand haar susterskind se lewe gered.

“Terwyl ons almal histeries was, het Leané doodkalm net aangehou mond-tot-mond asemhaling doen,” het haar ma, Seretha Nordjé vanoggend gesê.

Sy het oor en oor die nagmerrie gebeure herleef.

Me. Nordjé kan steeds nie glo haar dogter het haar kleindogter, Wilmari, se lewe gered nie.

Die gesin was doenig in die huis en weet nie hoe die hekkie van die swembad oop gekom het nie.

“My man, Jan, het aanmekaar begin gil en het ons Wilmari se lyfie op die swembad sien dryf.”
Me. Nordjé het ‘n ambulans gebel en almal was in ‘n skoktoestand.

“Wilmari was reeds blou, daar was geen teken van lewe nie.”

Me. Nordjé onthou hoe Leané dadelik opgetree, mond tot mond asemhaling gedoen en met haar twee vingers op Wilmari se borsie gedruk het.

“Sy het aangehou en aangehou tot Wilmari haar ogies oopgemaak het.”

Die ambulans het kort daarna opgedaag.

In hierdie tyd het die familie ‘n foto van Wilmari op groepe begin rondstuur en gevra dat almal moet bid.

Me. Nordjé sê alhoewel Wilmari by haar positiewe was, was sy baie pap en het die paramedici gesê hulle is bekommerd oor moontlike “tweede verdrinking, as daar dalk nog water in haar longetjies is.

Hulle het Wilmari afgevoer na die Caloocan Kliniek in St’ Michaels.

Na ‘n deeglike ondersoek deur die dokter, is Wilmari huistoe gestuur.

Sy moet net Maandag teruggaan na die kliniek sodat X-strale van haar longe geneem kan word om seker te maak alles is reg.

“Wilmari het laasnag in haar pappa se arms geslaap. Nie een van ons het egter geslaap nie, want ons was so bekommerd oor haar.”

Klein Wilmari vier more haar eerste verjaardag.

*Me. Nordjé glo ‘n Hoër Hand het dit so beskik dat Leané onlangs ‘n noodhulpkursus by haar skool voltooi het.

“Daar kon net vyf leerlinge gekies word uit die 30 en hulle moes selfs vir onderhoude gaan om die kursus te doen.”

Dit is Leané se droom om ‘n lugwaardin te word. Sou dit nie realiseer nie, sal sy graag ‘n paramedikus wil wees.
Vir beide moet jy kennis hê van noodhulp.

Sy was baie bly toe sy gekies is as een van die vyf vir die kursus.

“Min het ons geweet dat sy later haar sussie se baba, vir wie sy so lief is, se lewe sou red.”

*Leané was die grootste deel van haar laerskoolloopbaan ‘n leerling van Laerskool Kanonkop. Daarna het sy haar graad sewe jaar aan Laerskool Middelburg voltooi.

Sy was ‘n rukkie in HTS Middelburg, waarna die gesin sowat ‘n jaar gelede na Uvongo verhuis het.

Middelburgers sal onthou dat Leané ‘n paar jaar gelede ook mej. Kansa was.

*Wilmari se pa, Willie du Toit (ook ‘n oudleerling van HTS Middelburg) en ma, Juan-Mari, bly op dieselfde perseel as Juan-Mari se ouers, die Nordjé egpaar.

*Me. Nordjé was welbekend in Middelburg waar sy juwele verkoop het.

*Willie se ouers, Willie (snr) en Charmain du Toit, is steeds inwoners van Middelburg.

Leané en Wilmari is onafskeidbaar.

*Die familie bedank graag almal wat dadelik in gebed ingetree het, toe hulle gisteraand vir gebede gevra het.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button