Reuse optog, gholf, tennis, hokkie en rugby in derbyweek
Daar is ’n tasbare opgewondenheid op die dorp: Dit is derbyweek.

Die tafel is gedek vir ’n week vol opwinding, wat alreeds vanoggend begin het, met beide HTS Middelburg en Hoërskool Middelburg wat temadae het.
Middies het ook vroegoggend ’n uitstalling in die Mall gaan opslaan.
Die res van die week is daar groot gholf, hokkie, tennis en Vrydag se optog.
Die hokkie seuns is Woensdag by die astro baan van Hoërskool Middelburg slaags.
Donderdag is dit die twee skole se oudleerlinge wat mekaar op die gholfbaan pak, in die Derby Beker.
Daar is verversings by die 18 putjies, musiek, ’n biertent vanaf 14:00 en ete in die biertent vanaf 18:00.
By putjie 11 is daar ’n gratis bier beskikbaar en ’n pawiljoen vanwaar die aksie gevolg kan word. ’n Kolhou kan die gelukkige speler ’n groot bedrag in die sak bring.

Die “Beseerde Middie”, wat die Rooies se tema Donderdag is, sal die groen kwik van ondersteuners weer laat styg.
Vrydag pak die tennisspanne mekaar.
HTS Middelburg se optog begin om 8:15 by die skool en die roete is daarna na Laerskool C.R. Swart, voor die Middelburg Observer verby in Meyerstraat, Laerskool Kanonkop, Laerskool Dennesig, Laerskool Middelburg, Middelburg Primary, Aerorand Primary en weer terug na die skool toe waar daar geesvang op die pawiljoen sal wees.
Uit die bul se bek is die nuus dat dit die grootste optog ooit sal wees wat die Rooies reël.
Middies se optog skop om 10:00 af.
Saterdag se aksie begin vroegoggend by Hoërskool Middelburg met die o/14 rugbyspanne en die hoofwedstryd is om 14:30.
Die Middelburg Observer publiseer Donderdag ’n bylaag oor die derby wat vroeg by ons ReadThru in Meyerstraat beskikbaar sal wees.
Hermie Pienaar volg hierdie week die aksie. Kyk uit vir sy daaglikse opgradering van al die aktiwiteite en die uitslae.
