Dief val reaksielid met skroewedraaier aan
’n Reaksielid van Mid Alarms is met ’n skroewedraaier aangeval, toe hy ’n man met ’n gholfkarretjie onderstel, in die industriële gebied betrap het.
Ruan Cloete (reaksielid, Mid Alarms) sê hy het pas aan diens gekom Donderdag oms 05:00 en het patrollie in die industriële gebied gaan ry.
Minute later het hy ’n verdagte opgemerk wat ’n trollie stoot. In die trollie was ’n gegalvaniseerde onderstel van ’n gholfkarretjie.
Ruan het dadelik geweet waar hy die gegalvaniseerde onderstel gesteel het, aangesien dit nie die eerste keer is dat hulle die man met soortgelyke artikels betrap het nie.
Hy het hom gekonfronteer, “maar hy het my met ’n skroewedraaier aangeval. Die vorige keer toe een van my kollegas hom vasgetrek het, het hy hom met ’n mes probeer steek!”
Ruan het vernuftig die skroewedraaier by hom afgeneem.
•Hy het die eienaar van die besigheid gebel waar die onderstel gesteel is, maar hy wou nie ’n saak maak nie en Ruan moes die verdagte laat gaan.
