News

Ambulans en paramedikuste gekaap op plaaspad

Twee paramedikuste van Belfast Provinsiale Ambulansdienste ly steeds aan erge skok, nadat hulle laasnag met ’n ambulans net buite Belfast gekaap is.

Omstreeks 21:30 laasnag het hulle ’n uitroep gekry na ’n plaas. Daar is gesê hulle moet uitkom, omdat daar ’n vrou in kraam is.
Die roete na die plaas was eers op die Glisamynpad en vandaar na die Bospoortpad (sowat 10 km buite Belfast).

’n Hele ent op die Bospoortpad in, het hulle ’n voertuig met mense langs die pad gesien, wat gewys het hulle moet stop. Dit is nie ’n vreemde verskynsel dat mense soms ambulanse langs die pad kry om te wys waarheen hulle moet ry nie.

Die oomblik toe hulle egter stop, het hulle dadelik gesien die twee mans het balaklawas aan.

Hulle het daaroor uitgevra, waarop die mans vir hulle gesê het dat hulle die balaklawas aanhet, omdat dit so koud is op Belfast.

Die vriendelike geselsies het egter skielik verander, toe die booswigte stokke uitpluk en vir die paramedikuste, ’n man en ’n vrou, sê hulle moet op die grondpad gaan lê.

Die vroulike paramedikus het probeer teenstand bied, maar die boewe het haar gedreig dat hulle haar gaan seermaak. Haar kollega het ook vir haar gesê om eerder saam te werk.

Nog rowers het uit die bosse gepeul en nog voertuie het opgedaag.

Die paramedikuste se hande is vasgemaak met kabelbinders en hulle is agter in die ambulans ingeboender. ’n Kombers is bo-oor hulle gegooi en het die kapers met hulle begin rondry.

Nadat daar lank rondgery is, het die boewe die ambulans in ’n bos op die Paardeplaatspad gestop en die ambulans se enjin gestroop. Hulle het ook die ambulans se wiele afgehaal.

Met hul buit gelaai in die voertuie, het een van die rowers teruggekom na die paramedikuste in die ambulans en hul hande losgemaak.
Hy het ook hul selfone vir hulle teruggegee en gesê hulle moet vir sowat 20 minute stil lê en dan eers hulp ontbied.

Nadat hulle gehoor het alles is stil, het die twee geskokte paramedikuste hulp ontbied.

• Die polisie is omstreeks 04:00 ontbied, wat ’n duidelike aanduiding is van hoe lank die paramedikuste in die hande van die kapers was.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button