News

Kapers druk bakkie van pad af, hou plaasbestuurder aan met pistool, roof skape

Kapers het vanoggend ’n plaasbestuurder van Carolina net buite Hendrina van die pad gedwing, met ’n wapen aangehou en al die lammers agterop die bakkie oorgelaai na hul bakkies toe.

Mnr. Francois Malan (eienaar van die plaas) sê die skape en die kapers is steeds weg, maar sy plaasbestuurder, mnr. Jean Bruwer, is ongedeerd.
“Hy het na die voorval ingery Hendrina toe en die polisie van die gebeure vertel.”

Laat vanoggend het daar op noodgroepe boodskappe deurgekom dat twee bakkies (’n grys- en ’n wit bakkie) ’n man gekaap het net buite Hendrina.
Die boodskap het as volg gelui:

“Tyd 09:59. Kyk uit vir twee bakkies (grys en wit) met tralies rigting Carolina. Hul het ons sopas (09:45) gekaap en 14 Dormer lammers gelaai en weggery, rigting Carolina. Het by Hendrina gebeur. Bestuurder is aangehou met vuurwapen, so kon nie behoorlike beskrywing van voertuie sien nie. Ses mans was betrokke. Tattoeërmerk in ore FMB.”

Mnr. Malan sê sy plaas is buite Carolina. Hyself bly in Pretoria en mnr. Bruwer bestuur vir hom die plaas.
Hulle het die lammers verkoop aan ’n voerkraal op Leandra en mnr. Bruwer was op pad soontoe.

Net buite Hendrina, het ’n wit dubbelkajuit bakkie (Hilux of Nissan) voor hom inbeweeg en stadiger gery. Hy kon nie verby gaan nie, aangesien ’n grys bakkie langs hom ingery het.

Mnr. Bruwer is gedwing om te stop en ses mans het uit die twee ander bakkies, wat albei veetralies opgehad het, gespring.
Hy is met ’n handwapen aangehou, terwyl die kapers al die skape vanaf sy bakkie na hul bakkies gelaai het.

’n Foto wat vanoggend van die lammers geneem is. Van die skape is onlangs gedosseer en het ’n paar nog die geel streep op die rug (soos op voorgrond gesien kan word).

Nadat hulle weggejaag het in Carolina se rigting, het mnr. Bruwer na die Hendrina Polisie gegaan en ’n saak geopen.

Hendrina Polisie het die Carolina Polisie in kennis gestel dat die bakkies moontlik in hul rigting op pad is, maar die voertuie het nooit in Carolina opgedaag nie.

Mnr. Rudi Combrink, van die plaas Elandskloof, sowat 35km buite Belfast, sê hy het omstreeks 11:50 verby twee bakkies, wat die beskrywing pas, op die Machadodorp grondpad gery.

Tuis het hy op die kameras langs die plaaspad gekyk en gesien dat die twee bakkies verby die plaas gery het om 11:31.

Hy het dit deurgegee aan ander groepe in die omgewing, wat laat weet het dat die bakkies nie by Belfast verby is nie. Mnr. Combrink vermoed hulle het weggedraai na Dullstroom se rigting.

Mnr. Malan het later na die foto’s gekyk wat mnr. Combrink vir hom van die videomateriaal gestuur het.
“Dit is net te ver om te kon bevestig of dit wel ons lammers is,” sê mnr. Malan.

Mnr. Malan het reeds betaling vir die lammers gekry en sal nou die geld moet terugbetaal. Die skade is R25 000.

• Die lammers kan duidelik uitgeken word. ’n Paar van hulle is onlangs gedosseer en het nog die geel strepe op hul rûe.
Die lammers weeg tussen 20 en 40kg en die tatoeërmerk kan duidelik gesien word.

• As enige persoon die lammers of bakkies met die lammers opmerk, bel mnr. Malan by 082 877 8056 of mnr. Bruwer by 063 701 2124.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button