Knoesen al stywer in hoek geverf met onnodige monoloë in hof
Regter Johanna Mthimunye het Woensdag vuur gemaak onder beide die staat en Harry Knoesen, in Knoesen se voortslepende hoogverraad en terrorisme verhoor, wat reeds in April afgehandel moes wees.
Die staat is gevra om hul ondervraging van Knoesen vandag afgehandel te hê, sodat twee verdedigingsgetuies, beide kolonelle in die Valke se teenterrorisme eenheid, Vrydag kan getuig.
Regter Mthimunye moes Woensdag feitlik elke vraag van aansklaer Derik Rowles aan Knoesen herhaal, omdat hy weer vrae met uitgerekte verduidelikings probeer systap het.
Hy is egter telkens in ’n hoek gedruk met erkennings.
Hy het onder meer erken dat hy “resepte” vir bomvervaardiging op sosiale media platforms gedeel het.
Knoesen het herhaaldelike vrae rakende sy opdrag, dat indien hy gearresteer sou word, sy volgelinge die Boerelegioen se Izak van Zyl en sy gesin moet “uithaal,” gesystap met uitgerekte stellings dat Van Zyl eintlik “nice” is.
Knoesen het weer voorgehou dat hy sy oproep tot volksmoord en ’n staatsgreep ’n week na sy arrestasie, na ’n Desember visvang uitstappie met sy broer Ronnie, sou staak.
Hy het ook vroeër in die hofsaak ’n soortgelyke verweer oor die onwettige wapen en ammunisie in sy besit, gemaak.
Knoesen sou glo die wapen en ammunisie die betrokke Desember tydens ’n landswye wapenamnestie inhandig.
Sy “planne” is egter met sy arrestasie op 28 November, gekortwiek.
Hy het Woensdag weer telkens gehamer op die feit dat sy selfoon nie tydens sy arrestasie ondersoek is nie, sy verdediging in die wiele ry, ten spyte daarvan dat die hof vroeër reeds beslis het dat protokol met die seël van die selfoon vir forensiese ontleding gevolg is.
Knoesen hou vol dat hy die aand voor sy arrestasie per boodskap gewaarsku is die polisie is op pad, en sê dat hy nooit weer aan sy foon geraak het na 17:30 die dag voor sy arrestasie nie.
Woensdag het hy weer gesê “die polisie het met sy foonrekords gedokter,” nadat hy oor talle boodskappe, selfs die oggend van sy arrestasie, uitgestuur het dat die aanvalsplan sou voortgaan.
Die staat het ook al tot vervelens toe sedert die begin van die verhoor laat hoor dat al het Knoesen ’n waarskuwingsboodskap ontvang, dit geen impak op die ondersoek of verhoor het nie.
Daar is egter met forensiese ontleding bevind dat Knoesen nooit so boodskap ontvang het nie.
Die staat wou ook weet hoekom Knoesen sy broer se vierjarige seun nie uit die huis verwyder het, as hy geweet het die taakmag toeslaan nie.
Op dié vraag, én oor hoekom hy nie toé, nadat hy bewus geword het dat hy die volgende dag gearresteer sou word, sy volgelinge ingelig het alles was ’n grap nie, het Knoesen in retrospek erken hy moes die kind verwyder het en dadelik uitgesaai het sy aanvalsplan is van die baan.
Kruisondervraging word vandag voortgesit.
