Rooies het nie Monnasgriep talle leerlinge is siek
HTS Middelburg se kragmeting die naweek teen Hoërskool Monument en Hoërskool Middelburg se wedstryd teen Nelspruit, is beide afgestel.
Die Middies en Nelspruit kragmeting word wel beplan vir 11 Junie.
Na die naweek se derbydag is verskeie spelers en personeel van beide HTS Middelburg en Hoërskool Middelburg siek in die bed.
Die eerstespan afrigter van Hoërskool Middelburg, Louw de Waal, was een van die Middies personeellede wat platgetrek is met bronchitis.
Intussen is daar HTS Middelburg ondersteuners wat witwarm onder die kraag is nadat die webblad, SupaRugby, geskryf het “die Rooi Bulle van HTS Middelburg het Monnasgriep. Die Rooi Bulle het hulle Donderdagoggend vir die tweede agtereenvolgende jaar aan hul kragmetings teen Monument onttrek. Die twee skole sou Saterdag teen mekaar speel.”
Die oud Middelburg Rugbyklub flank, George Nel, het geskryf “los asseblief die kinders uit, hulle is regtig siek, as julle iets te sê het sê dit vir my, hulle bekke is groot maar gewoonlik is dit die wat so baie praat wat niks beteken nie.”
Mnr. Johan Stronkhorst, hoof van Hoërskool Middelburg, sê daar is 300 leerlinge van die skool wat siek is.
Onder die siekes is sewe seuns van die eerstespan en agt van die eerste meisies hokkiespan.
“Die skool bly oop, maar ons het die oefeninge vanmiddag gekanselleer.”
Middies het voorgestel dat die wedstryde op 11 Junie plaasvind wanneer albei skole loslootjies het, met die netbal wat bereid is om Dinsdag te speel, omdat hulle ander verpligtinge het op die latere datum.
Mnr. Stronkhorst sê hy is nie bereid om kinders se gesondheid op die spel te plaas, deur met siek kinders die bepaling Saterdag na te kom nie.
