Twee mans vlug na kabeldiefstal
’n Plaaslike makelaar sê dat die twee mans wat die week vir die hoeveelste keer deur inwoners gesien is waar hulle kragkabels knip en in ’n “gesteelde” voertuig laai, Maandagaand spore gemaak het by die huis waar die eienaar van die voertuig hulle ingeneem het.
Al die rolspelers, insluitende die twee kabeldiewe, se identiteit is aan die koerant bekend.
Die jongman by wie die boosdoeners gebly het, se identiteit word weerhou om hom te beskerm.
Volgens die makelaar wat namens die huiseienaar se ma optree, en die voertuig Maandagaand op haar aandrang by haar seun gaan haal het, is die jongman al deur die kabeldiewe aangerand en is sy oorlede pa, by wie hy die huis geërf het, se wapen selfs al op hom gerig, nadat dit deur een van die kabeldiewe uit ’n kluis in die huis gesteel is.
Die polisie is deeglik bewus van die kabeldiewe en het al die huis besoek, waar nuutgesnyde kragkabels op die eiendom gevind is.
Die makelaar sê hyself het hulle al gaan aangee by die polisiestasie waarna hy deur een van die kabeldiewe voor die polisie met ’n mes gedreig is.
“Die polisie het niks daaraan gedoen nie, ek glo die erfgenaam leef in vrees,” sê die makelaar. Die ma van die jongman het meer as ’n maand gelede die twee mans haar seun se huis belet en ook opdrag gegee dat net haar seun die kar mag bestuur.
“So inderwaarheid steel hulle elke keer die VW Tiguan om hul plundertogte mee uit te voer”.
Die erfgenaam is selfs al deur sogenaamde “huurders” in sy kamer toegesluit, sê die makelaar.
Toe die makelaar die voertuig Maandagaand op aandrang van die ma gaan haal, het die kabeldiewe eers verskeie “vermoedelik gesteelde items uit die voertuig gelaai, insluitend hul knipgereedskap.
Talle inwoners het op ’n www.mobserver.co.za plasing oor die voorval waarin die duo op heterdaad betrap is tydens ’n kabeldiefstal in Zuidstraat, bevestig dat hulle die twee ook al kabels sien steel het, en ook bewus is van die omstandighede waarin die huiseienaar in vrees vir hulle leef.
“Hulle het egter nou spore gemaak maar ek vermoed hulle sal weer die huiseienaar lastig val, as hulle die trekpas elders kry”.
Www.mobserver.co.za is in besit van foto’s van die beskuldigdes.
Hulle is beide na bewering ook op dwelms, en die makelaar vermoed dit is waarom hulle kabels steel.
“Hulle steel nie net by die arme huiseienaar nie maar by die dorp se inwoners!”.
’n Inwoner het die twee mans die week gevolg, nadat hy hulle ook verlede week sien kabels steel het.
In Zuidstraat het hy gesien hoe hulle ’n kragkabel knip en om die hoek verdwyn, vermoedelik om ander kabels te knip.
Dis toe dat die inwoner ’n foto van die knipgereedskap in die kattebak van die voertuig afgeneem, en dit aan www.mobserver.co.za verskaf het.
Die makelaar het dadelik die motor herken as die van ’n kliënt en die vrou in kennis gestel.
“Ek ken die mense al lank en my kliënt se seun word al maandelank misbruik vir blyplek en die gebruik van die voertuig”.
Die voertuig is tans by die makelaar.
