News

‘Kaptein’ dreig mans oor ‘verkragting’

’n Man wat homself “kaptein John Smith” noem, het al duisende rande uit mans gekul, wat uit vrees geld aan hom oorbetaal, omdat hy “verkragting-dossiere” kan laat verdwyn.

Mnr. Anthony Boucher (privaat ondersoeker, SA Investigations op Middelburg) sê hy het al vir ’n paar kliënte ondersoekwerk gedoen wat deur “kapt. John Smith” ingeloop is.

Met die mees onlangse saak wat hy ondersoek het vir ’n ma van ’n 17-jarige seun, wat lastig geval is deur die ‘kaptein’, is daar ’n saak by die eMalahleni polisiestasie geopen.

’n Middelburgse klaer was sy eerste kliënt vroeg in 2021.

“Hy het R15 000 vir die kaptein betaal, want hy was nie lus vir ’n uitgerekte hofsaak om sy onskuld te probeer bewys nie. Al het hy geweet hy is onskuldig.”

’n Ander bekende plaaslike sakeman het R18 000 betaal om die lastige ‘kaptein’ af te skud.

Mnr. Boucher sê dat hy in sy ondersoek gevind het dat die man al van 2016 af besig is en duisende rande uit mans bedrieg het.

Hy bel mans en stel hom voor as ’n kaptein van die dorp waarin die slagoffer bly. Die afgelope paar maande het hy in Middelburg en eMalahleni toegeslaan.
Die ‘kaptein’ sê vir die man dat daar ’n verkragtingsaak teen hom geopen is en verduidelik dan hoe ernstig dit is.

Privaat ondersoeker Anthony Boucher (SA Investigations) het met knap ondersoekwerk uitgevind wie die man is wat hom voordoen as ‘kaptein John Smith’ en hy glo die polisie is warm op sy spoor.

 

Hy het kennis van die reg en polisieprosedures en praat sy slagoffers só bang dat hulle glo hulle gaan gearresteer word.

Dan skielik verander hy sy storie en sê dat hy die dossier kan laat ‘verdwyn’ as daar R5 000 aan hom oorbetaal word. Hy bly egter terugbel met driegende stories.
Middelburger Chris Reynierse en oud-Middelburger Eugene Strydom het hulle egter nie laat flous nie.

Mnr. Reynierse is op 14 Februarie gebel.

“Hy het my gebel en gevra wat ek gaan doen met die verkragtingsaak en dat ek hom moet kom sien. Ek het vir hom gesê hy kan gaan vlieg, daar kan nie so ’n saak wees nie en hy kan my kom sien.”

• Mnr. Strydom bly al ’n geruime tyd in die Kaapprovinsie, maar het nog sy besigheid op Facebook geadverteer. Hy vermoed dis waar die man sy nommer gekry het.

Hy is vroeg in Maart gebel deur die kaptein wat gesê het hy is van die Middelburg Polisie. Mnr. Strydom het hom gevra of dit by die Middelburg polisie in Joubertstraat of Mhluzi polisie is en die kaptein het gesê die een in Joubertstraat.

“Hy het vir my gesê daar is ’n meisie wat by hom sit wat sê sy is verkrag en sy soek R5 000 om die saak terug te trek.”

Mnr. Strydom het hom net daar in die rede geval en gesê hy bly al lankal in die Kaap en dat daar nie so ’n saak kan wees nie.
Hy het foon doodgedruk, maar die kaptein het teruggebel, dreigend geraak en gesê hy is nie lus vir speletjies nie.

“Hy het gesê ek moet die R5 000 betaal of hy gaan aan met die saak, maar ek het vir hom gesê ek sal iemand polisiestasie toe stuur om te hoor wat aangaan en hom in sy peetjie gestuur.”

• ’n Man wat deur die kaptein gekontak is, het mnr. Boucher gevra om die saak te ondersoek.

Met mnr. Boucher se hulp het hulle “saamgespeel” en gevra vir ’n bankrekeningnommer.
Die bankrekening was dié van ’n vrou wat al in 2018 oorlede is en hy het besef dat dit familie is wat dit gebruik.

Hy het ook by die familie van die verdagte, wat homself voordoen as kapt. John Smith, verneem dat hy ’n dwelmverslaafde is.

Mnr. Boucher sê hy het reeds die besonderhede van die skuldige party (naam en adres) bevestig en sal al die finale stemboodskappe en inligting wat hy nog het, so gou as moontlik aan die polisie oorhandig.

• Hy vra dat indien daar ander mans is wat deur die bedrieër ingeloop is, om hom te bel by 064 534 5853 “sodat ons die saak teen hom sterker kan maak.”

 
Back to top button