Diewe ruk vullisstaanders uit, bêre al hul buit by ou silo’s
’n Inwoner van Oosstraat wie se vullisstaander voor sy erf uitgeruk is, het dit later agter die ou silo’s tussen die gras gekry.
Die diewe was ook daar toe mnr. André de Jager by die ou silo’s aankom, maar hulle het laat spaander toe hulle hom sien.
Mnr. De Jager sê hulle het eers later deur die dag agtergekom hul staal vullisstaander is uitgeruk.
“Ons was in die huis toe hulle om 10:15 aan die staander begin ruk en pluk het.
Op sy CCTV videomateriaal word gesien hoe hulle met ’n kruidenierstrollie aangestap kom in Oosstraat.
Hulle kyk eers rond of iemand hulle sien, en begin dan aan die trollie ruk en pluk.
Dit is duidelik dat iets hulle laat besluit om weg te stap, maar vyf minute later keer hulle terug en ruk die staander heeltemal uit die grond.
Toe hy sien die staander is gesteel, het hy gejaag na die ou silo’s toe.
“Ek het in die verlede al baie keer gesien hoe die mense wat die trollies stoot, loop in die rigting van die ou silo’s.”
Die twee mans het by sy vullisstaander, wat op die grond gelê het, gestaan en gevlug toe hy nader kom.

Mnr. De Jager was verstom toe hy sy vullisstaander wou oplaai en begin rondkyk. Reg rondom hom het daar talle ander gesteelde artikels gelê.
“Daar was gereedskap en karparte soos remme en koppelaars. Ek dink hulle gooi die goed wat hulle steel daar en gaan haal dit Maandae om aan skrootmetaalbesighede te verkoop! Ek glo dit lê nou nog daar!”
Mnr. De Jager wil die gemeenskap bewus maak dat die diewe hulle op vullisstaanders en enige ander artikels wat op sypaadjies staan, wat hulle as skrootmetaal kan gebruik, sal steel.
“Mense dink die mense met die trollies loop net en blikkies optel om te herwin, maar hulle loop bedags en kyk in mense se erwe in wat gesteel kan word!”
• Hy het op sy CCTV videomateriaal gesien dat die diewe reeds iets in hul trollie het, toe hulle sy vullisstaander steel. ’n Mens kan nie uitmaak wat dit is nie, maar hy glo dit is ook gisteroggend gesteel.
• Nadat hy op noodgroepe mense van die voorval in kennis gestel het, het een of twee gemeld dat hul vullisstaanders ook gesteel is.
• In September verlede jaar berig die Middelburg Observer van ’n groep mans wat met ’n sleepwa, kragopwekker en kantsnyer betrap is by die ou silo’s.
Jakes Jacobs, reaksie-offisier van Titon Sekuriteit, het destyds reageer op inligting dat die silo’s kaal gestroop word vir skrootmetaal. Met sy aankoms was daar ’n groep van vier mans. Hulle het ’n bakkie en gehuurde sleepwa met die kragopwekker en ’n kantsnyer by hulle gekry.
Mnr. Jacobs het die polisie en die munisipale polisie gekontak.
Die munisipale polisie was blitsig daar en het die voertuig en sleepwa na die polisiestasie toe gevat. Hulle het ook die verdagtes saamgevat polisiestasie toe, maar die verdagtes is laat gaan omdat die eienaar van die grond, waar die silo’s geleë is, nie opgespoor kon word nie.
• Twee weke gelede het me. Henriet Giessel, van Tuindrom, ook gekla dat nie net hulle tuindromme nie, maar ook ander tuindrombesighede se dromme die afgelope tyd gesteel word op sypaadjies.
Sy het gevra dat mense wat tuindromme het, om dit net op die dae wat die tuinvullis opgelaai word, uit te sit.
