News

Een van drieling sterf op dag wat hulle vyf maande oud word

Een van die De Meyer drieling het gistermiddag gesterf.

Klein Nicholas is omstreeks 18:00 op pad na die Witbank Provinsiale Hospitaal oorlede.
Sy pa, Marco, sukkel om die gebeure te verwerk.

Op sy WhatsApp profiel het hy ’n fototjie van Nicholas (ook Nicky genoem) met die woorde: “Pappa gaan jou mis my bul. Rus in vrede my seun. Pappa is lief vir jou.”

Tydens die onderhoud met www.mobserver.co.za breek sy stem kort-kort.

“Ek sukkel, wat gaan ons sonder hom doen? Hy het altyd sy koppie na my toe gedraai en so lekker gelag. Hy was so ’n vriendelike ou seuntjie,” het hy hartseer gesê.

Nicholas en sy boetie, Mathys, het albei bronchitus opgedoen, maar Nicholas was baie siek.

In die laaste drie weke was hulle meer as een keer by dokters en hy het op ’n stadium beter begin word.
Teen Vrydag is hulle weer terug dokter toe, toe Nicholas begin opgooi het.

Nicholas was ’n vriendelike baba.

Die dokter het vir hom medikasie voorgeskryf en hy het teen Saterdag weer sy bottel begin drink.
Saterdagaand het hy beter gelyk, maar Sondag omstreeks 10:00 het hy skielik blou geword.

Hulle het na die Life Midmed Hospitaal gejaag en Nicholas is gistermiddag omstreeks 17:30 oorgeplaas na die Witbank Hospitaal.

Die oomblik toe hulle Nicholas oorsit van die hospitaal na die ambulans se lewensonderhoudende masjiene, het sy hartjie gaan staan, maar hulle kon dit weer aan die gang kry.

“Twee minute weg van die Witbank Hospitaal af het sy hartjie weer gaan staan en hulle het by ongevalle alles probeer, maar ons seuntjie se hartjie het nie weer geklop nie.”

Mnr. De Meyer sê hy is nog nie presies seker wat sy seuntjie se dood veroorsaak het nie.

“Dalk was daar te veel slym op sy borsie en het hy versmoor. Ek weet nie, ek weet regtig nie waaraan ons kind dood is nie.”

Hy het aangedui dat hulle Mathys ook weer na ’n dokter toe gaan vat om seker te maak alles is reg met sy longetjies.
Matlyn, die dogtertjie, is gelukkig gesond.

“Ons wil ons laatie bo-op sy naamgenoot oupagrootjie begrawe. Daar is destyds nie ’n grafsteen vir Vicky se oupa opgesit nie en ek gaan beslis ’n steen laat opsit met albei se name daarop.”

Klein Nicholas word oorleef deur sy ouers, Marco en Vicky, Matlyn en Mathys (deel van die drieling), sussies Gabriella (3) en Zialee (6), grootouers en familie.

• Nicholas se ouers het nie die nodige fondse om die begrafnis te betaal nie.

Persone wat hulle finansieel wil bystaan, kan Marco bel of WhatsApp by 079 051 4351.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button