Bejaardes sonder water na “sabotasie”
Groot gedeeltes van die SAVF Tehuis vir Bejaardes is sedert Sondag sonder water en is daar pas vasgestel dat iemand die stopkrane toegedraai het.
Me. Bernice du Plessis (bestuurder) het vroeg vanoggend gevra dat die gemeenskap asseblief drinkwater vir die inwoners moet bring, aangesien hul filtersisteme nie werk nie, omdat daar geen waterdruk is nie.
Hulle kon ook nie wasgoed was nie en groot gedeeltes van die tehuis het geen water gehad nie en inwoners moes in ander dele van die tehuis gaan stort.
Die probleem was so groot dat hulle hulp gevra het by rdl. San-Mari Wait, wat gesê het sy sal vandag reël dat ’n watertenker by die tehuis geplaas word om te help.
Mnr. Gerhard Koch (faktotum) het pas laat weet dat hy ook die munisipaliteit gevra het om ’n span uit te stuur om te kom kyk wat die probleem is by die tehuis.
Hyself het intussen regdeur die perseel gestap en gesien dat van die stopkrane toegedraai is.
“Ek vermoed dit is sabotasie en ons wonder hoe hulle in die perseel gekom het. Daar is ’n hek waardeer die ambulanse kan inkom en ons vermoed dat hulle toe ingeglip het.”
Hy het reeds die stopkrane oopgedraai en die druk begin reeds verbeter.
“Ons sal dalk nog net vandag drinkwater vir die inwoners benodig.”
• Persone wat bottels drinkwater wil skenk, kan dit gaan afgee by die tehuis in Koppiestraat.
