Talle inwoners het vanoggend laat weet: “dag nege! Ons het uiteindelik water!”
Gistermiddag omstreeks 15:00 het die water in die omgewing van die Belfast Hospitaal begin deurkom.
Vandag is daar groot opwinding, “want ons het die beste druk in jare in ons krane!”
Mnr. Johan Boshoff (voorsitter Belfast Afriforum) het bevestig dat die hele dorp uiteindelik water het. “Daar is nog so een of twee huise in O’Neillstraat wat sukkel, maar ek glo dit sal ook vandag uitgesorteer word.”
Hy het gister saam met die munisipale werkers gehelp om die waterdruk te herstel.
“Die munisipale werkers het tot laat gewerk gisteraand om die probleme uit te sorteer en het na 21:00 weer gevra of die mense se water begin deurkom.”
Die waterkrisis was weens ’n blokkasie in die sisteem by die hoof reservoir.
“Dit alles kom terug na instandhouding en onderhoud,” sê mnr. Boshoff.
