News

Klein oorloggie op video vasgevang

Terwyl die koeëls om hulle fluit, het ’n inwoner van Waterval Boven (Emgwenya) ’n transitorooftog, wat sowat 700m vanaf sy huis op die N4 buite dié dorp plaasgevind het, afgeneem.

Mnr. Hennie Fourie het vanoggend vir die joernalis van www.mobserver.co.za gesê dat hy Maandagaand erg hoofpyn gehad weens die trauma van die gebeure.

“Dit het my teruggeneem na my dae in die weermag in 1975/76 toe ek op die grens was. Ek was in vele kontakte en is ook gewond.”

Mnr. Fourie was ’n skerpskutter vir die Suid-Afrikaans Weermag en hy het dadelik die geluid van aanvalsgewere na die aanvanklike ontploffing herken.

Hy was in hul televisiekamer in Eendragstraat (Elandspark, Waterval Boven) toe die elektrisiteit omstreeks 17:00 weens beurtkrag afgaan.
Sowat 10 sekondes later het hulle die eerste slag gehoor toe die dinamiet ontplof.

“Dit was só naby dat dit gevoel het of iemand my met ’n vuis in die gesig slaan.”

Mnr. Fourie het dadelik sy selfoon aangesit en ’n mens kan op een van die video’s nog die rook in die lug sien.
Oomblikke later het die skote begin klap.

“Dit was duidelik R4 en AK47 aanvalsgewere wat geskiet het en ek het my familie, asook vroue wat in die straat nader gestap het om te kom kyk, gewaarsku om na veiliger areas te beweeg.”

Mnr. Fourie het besef van waar hy staan, kan hy niks doen nie en het aangehou video’s neem van die skietery.
“Jy voel so magteloos, want jy weet jy kan niks doen nie!”

Die videomateriaal wys hoe daar op voertuie geskiet word en jy sien hoe ’n bakkie en ander voertuie vinnig omdraai om van die toneel af weg te kom.
Dinamiet ontplof vir ’n tweede keer.

Later hoor jy hoe van die vroue vir mnr. Fourie sê hy moet kyk, want die rowers hardloop in die berge en die koppie in. Van hulle het later in ’n wit bakkie gevlug.

Mnr. Fourie het sy kragopwekker aangeskakel en die Waterval Boven Polisie probeer bel, “maar ek kon niemand in die hande kry nie.”

Hy het ook die aand nuus gekyk en oral navraag probeer doen om te hoor of iemand seergekry het.

“Ek weet net hulle het weggekom met ’n bietjie geld.”

Die voorval het sowat een en ’n halwe kilometer vanaf die ingang na Waterval Boven, op pad na die tonnel, gebeur.

• Kapt. Lucy Sekgotodi (woordvoerder vir die Valke – Mpumalanga Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoeke) het Dinsdag vir die Middelburg Observer se susterskoerant, die Laevelder, die gebeure geskets.

Sy het gesê dat ’n GS4S-bussie met kontant op pad was na Mbombela (Nelspruit) toe die voorval plaasgevind het. Vier gewapende mans het met aanvalsgewere op die geldwa geskiet en dit reggekry om dit tot stilstand te dwing. nadat hulle die regter voorwiel pap geskiet het.

Kapt. Sekgotodi het gemeld dat die rowers die veiligheidswagte ontwapen het, hulle pistole gevat en gedwing het om in die bosse te gaan lê, voordat hulle die kontantwa met dinamiet oopgeblaas het.

Dit is nie duidelik hoeveel kontant vermis word nie, aangesien daar nog van die geldblikke en kontant, wat op die toneel rondgelê het, gekry is.

Terwyl die verdagtes met die rooftog besig was, het nog ’n kontantwa van SBV op die toneel aangekom, wat heeltemal onbewus was van die transitorooftog.
Die polisie het kort daarna opgedaag en ’n skietgeveg tussen die polisie, die SBV-sekuriteitswagte en die vier verdagtes het ontstaan.

Die rowers het te voet gevlug en die vermoede bestaan dat van hulle in die skietgeveg beseer is.

• Die Nelspruit Plaaslike Kriminele Rekordsentrum, die Nelspruit Blitspatrollie, plofstofdeskundiges, die Emgwenya-polisie en die Nkangala Vispol-eenheid was almal op die toneel.

• Geen sekuriteitsbeamptes of polisielede is beseer nie en die Valke ondersoek die saak.

• WhatsApp noodgroepe van Middelburg het na die transitorooftog gesê dat mense wat in die rye met hul voertuie gestaan het, omdat die pad gesluit was, se voertuie is aangeval en beskadig is deur leeglêers.

• Mnr. Fourie het verlede jaar video’s van die waterval, asook die vloede in Waterval Boven op YouTube geplaas en hy sê 500 000 mense het daarna gekyk. Hy het nou ook een van die video’s van die transitorooftog op YouTube gelaai.

• Die joernalis (Daleen Naudé) vir wie hy van die gebeure vertel het, is bekend aan mnr. Fourie, aangesien sy grootgeword het in Waterval Boven en hulle naby mnr. Fourie-hulle in dié dorp gebly het.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button