News

ONS WIL NIE WERK NIE! – Stakers vergader alweer by burgersentrum

Keelvol inwoners het vanoggend gedreig om hulle vullis by die burgersentrum te gaan stort.

Terwyl groot areas van die dorp geen water het nie, en die oorblywende dele sukkel met swak waterdruk weens ’n onlangse bars op die hooflyn, kom munisipale werkers vanmore in hul massas saam vir ’n vergadering oor die pad vorentoe wat moontlike stakings betref.

In plaas daarvan om op te daag vir werk en die gemeenskap van diens te wees, het die massas ondankbare werkers wat die dorp reeds sedert September gyselaar hou met voortslepende stakings, om 07:30 by die burgersentrum se parkeerterrein saamgedrom.

Dié magsvertoon kon by die magasyn, waar stakers meer as twee maande lank gesit en braai en suip het, gehou word.

Maar, soos gewoonlik wil diegene wat maandelank reeds die hand wat hul voer byt, net vir inwoners wys hulle is nog lank nie klaar met die vuilspel nie.
Die motivering agter die munisipale werkers se voortslepende ontwrigting van dienste is eenvoudig:
Hulle wil nie werk nie.

Tydens Covid het honderde van hulle maandelank tuis met vol salarisse gesit, terwyl Suid Afrikaners buite die staatsdiens op werkloosheidsversekering moes staatmaak om te oorleef.

Middelburgers het getrou aanhou betaal vir dienste, en so seker gemaak dat hulle volle salarisse trek.

In September verlede jaar het die eerste staking, wat meer as twee maande geduur het, afgeskop met die gebraai en gedrink by die magasyn.
Dit was te lekker!

Ons doen niks, kry ons volle salarisse en byvoordele in die bank, braai, drink, vandaliseer infrastruktuur en intimideer dié wat wil werk.
Die agenda vir vandag se vergadering sluit onder meer die mandaat vir verdere optrede van werkers in.

Ander punte is onder meer:
• Die raadsbesluit vir ’n 100% verdeling van terugbetalings op verhoogde salarisse, wat munisipale bestuurders en direkteure uitsluit.
• Die dissiplinêre en kriminele sake teen sommige werkers.
• Griewe onder verkeerspersoneel.
• Hangende hofsake.
• Die skorsing van werkers, insluitende Kgosi Makwati, wat tot dusver luidkeels die stakings gedryf het.
• Hofinterdikte wat teen die stakings verkry is.
• En ’n beskermingsbevel wat teen die werkers verkry is deur ’n munisipale amptenaar.

Uit die agenda is dit duidelik dat die massa munisipale werkers oortreders in hul midde wil beskerm en van alle klagtes teen hulle kwytskeld.
Nêrens op die agenda is daar ’n punt wat vra “hoe wen ons die vertroue van die gemeenskap terug” of “hoe maak ons op aan die gemeenskap vir ons swak dissipline en ondankbaarheid” nie.

Hoekom?
Want nie een van hulle gee ’n dooie duit om oor die dorp of sy inwoners nie, eenvoudig soos dit.

Daar behoort opgetree te word teen die werkers wat nie aangemeld het vir hul poste vanoggend nie.

Hulle is al te lank van hul lessenare af weg.

Intussen sit die dorp nog met ’n reuse agterstand op dienste sedert die stakings.

Gemors lê die hele wêreld vol.

Riool loop die rivier oral in.

Slaggate verdiep en verwyd.

Huisplanne word nie goedgekeur nie.

Daar is nie diens by die lisensiekantore nie.

Die lys hou net aan en aan…

• Keelvol inwoners het vanoggend gedreig om hulle vullis by die burgersentrum te gaan stort.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Back to top button