News

So laat die polisie Suid-Afrikaners skandelik en skreiend in die steek

Die polisie laat Suid-Afrikaners skreiend in die steek.

Afriforum se privaatvervolgingseenheid word al meer deur geliefdes van misdaadslagoffers genader, vir onafhanklike oorsig oor nie net die polisie se hantering van misdaadondersoeke nie, maar die howe se gevolglike versigtigheid om sake te vervolg.

Onvoltooide dossiere, swak speurwerk en beskuldigdes wat by die polisiestasie ’n belaglike klein bedrag betaal en vrygelaat word, is aan die orde van die dag.

Afriforum het tans die mandaat van ses plaaslike families om in te gryp by beide die plaaslike polisie se hantering van die sake.

• Die 2011 moord van me. Wilma Viljoen, wat vasgebind aan ’n boom by Samekoms gevind is.
Sy is verkrag en vergiftig, en haar maroen Hyundai motor gesteel.

Haar vermeende moordenaar staan ook tereg op ’n ander moord in Limpopo.
Die polisie kan nie die staatsgetuie in die saak teen Peter Mogale opspoor nie.

Peter Mogale.

Dit nadat www.mobserver.co.za met behulp van Mbombela se Bossie’s Community Justice, die staatsgetuie Jaco Redelinghuys, twee jaar gelede by die Halls padstal buite die stad opgespoor het.

Henco Booysen.

• Die dood van jong Henco Booysen (13) in November 2017.

Henco is ’n maand voor sy 14de verjaardag dood, nadat hy van ’n bakkie afgeval het.
Die man wat die bakkie bestuur het, na bewering sonder ’n bestuurderslisensie, loop steeds vry rond.

Mnr. Gerhard Coetzer se moordtoneel.

• Die April 2018 moord van mnr. Gerhard Coetzer voor sy vrou en kind by ’n geselligheid.

Sedert die jong pa se moord, is daar nog geen arrestasies gemaak nie. Ooggetuies het wel ’n persoon geïdentifiseer, wat ook by die geselligheid was.
Dit is eintlik ’n eenvoudige saak, maar nie vir die polisie nie.

Die huis is nooit deursoek vir wapens nie. Die partye by die geselligheid is ook nooit getoets vir kruitaanwesigheid op hul hande nie.
’n Persoon by die geselligheid is ook deur getuies voor die dodelike skietery met ’n wapen opgemerk.

’n Foto van Gerhard Coetzer en sy seuntjie, Ronaldo. Mnr. Coetzer is voor Ronaldo doodgeskiet.

• Die Oktober 2018 dood van me. Alet Herbst en haar huishulp Linda Lukhele.

Beide vroue is opslag dood, nadat ’n vrou glo die botsing veroorsaak het. Die saak is intussen op die hofrol geplaas, maar die ondersoek was van meet af twyfelagtig hanteer.

Die vrou is in die afwesigheid van bloed/alkohol uitslae laat gaan. Die saak is eers terug op die hofrol geplaas na Afriforum se ingryping.

Die toneel waar me. Alet Herbst en haar huishulp Linda Lukhele oorlede is.

• Die Maart 2019 dood van me. Liezel Visagie, wat voor haar tienerdogter dood gery is deur Khumbulani Malinga, wat besig was om van plaaslike verkeersmanne, wat hom wou aftrek, te vlug.

Malinga is na Afriforum se ingryping, skuldig bevind aan strafbare manslag en tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis.
Me. Visagie se saak is die enigste uit die sewe wat tot dusver tot suksesvolle vervolging gelei het.

Liezel Visagie.

• Die tragiese dood van Amé Jansen van Rensburg in September 2021.

Klein Amé (5) is dood, nadat die bestuurder van ’n aankomende voertuig voor hulle ingejaag het op die ou-Witbankpad.
Haar pa moes uitswaai vir die voertuig, waarna die bakkie gerol het.

Amé is op die toneel in haar karstoeltjie oorlede. Die verdagte het na bewering weggejaag en is deur ’n ooggetuie van die pad gedwing.

Amé se ouers het verlede week gesê dat hulle steeds nie die nadoodse ondersoekverslag ontvang het nie. Hulle het intussen haar 6de verjaardag by Amé se graf herdenk. Die verdagte loop steeds vry rond.

Amé Janse van Rensburg.

• Die April sterfte van Motheo Madihlaba, ’n jong afleweringsman van #Braai/#Pizza wat tydens vanjaar se Paasnaweek dood is, toe ’n aankomende voertuig hom in sy baan getref het.

Die verdagte, wat volgens getuies erg besope was, het na bewering twee voertuie in die dubbelbaan op ’n sperstreep verbygesteek.
Die dossier is na Afriforum se ingryping aangevra en is tans by ’n beheeraanklaer van die Middelburg Landdroshof vir beslissing.

Die verdagte het R1500 borg by die polisiestasie betaal en aangesê om April volgende jaar terug te kom.
Die saak is ook nie op die hofrol geplaas nie, weens uitstaande bloed/alkoholtoetse.

Motheo Madihlaba se erg beskadigde bromponie.
Motheo Madihlaba – geen geregtigheid vir hom nie.

• Maar dit is nie net in onnatuurlike sterfgevalle waar die polisie inwoners in die steek laat nie.

’n Plaaslike makelaar sê die polisie was in sy teenwoordigheid by ’n huis waar inwoners gereeld kabeldiefstalle met ’n gesteelde voertuig pleeg.

Ten spyte daarvan dat die polisie twee verdagtes in die huis gekonfronteer het, waar kamers vol gesteelde kragkabels gevind is, het die polisie besluit om nie verder ondersoek in te stel nie, omdat die eienaar van die voertuig wat in die diefstalle gebruik is, die voertuig vir die verdagtes geleen het.

Beide verdagtes is aan www.mobserver.co.za bekend, en beide is al by verskeie geleenthede deur plaaslike inwoners gesien kabels knip en wegdra.
Die polisie het nog geen poging aangewend om bewyse teen die verdagtes by www.mobserver.co.za of die getuies te kry nie.

• Plaaslike MHRF raadslid, Rehana Pilodia, het ook die week haar teleurstelling in die openbare orde polisie uitgespreek, wat geweier het dat sy die munisipale gronde verlaat, tydens verlede Vrydag se raadsitting.

Stakende werkers het munisipale ingange blokkeer en raadslede geïntimideer, terwyl die swaar gewapende polisielede gestaan en toekyk het.
Me. Pilodia is glo deur die polisielede terug beveel raadsaal toe, tot groot vermaak van die stakers.

• Inwoners kritiseer die polisie ook erg sedert September verlede jaar, toe die eerste van vier onwettige stakings deur munisipale werkers van stapel gestuur is.
Kontrakteurs is aangeval en hul voertuie beskadig en infrastruktuur is gevandaliseer en gebreek.

Niemand is in verband met die aanvalle of vandalisme aangekeer nie, ten spyte van verdoemende bewyse, insluitende videomateriaal van sekere voorvalle.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Back to top button