News

Dief daag met fiets op en gooi klip deur venster

Diewe het Saterdag in die vroeë oggendure een van die voorste vensters van die Groenfontein Melkery (Kanonkop, Middelburg) met ’n groot klip uitgegooi en van koekies tot melk gesteel.

Videomateriaal het later gewys hoe ’n man met ’n fiets om 02:00 by die deurryvenster karring en dan na agter beweeg.

Mnr. Anton Weideman vermoed dit is toe dat die man ’n reuse klip in die mandjie van sy fiets gelaai het.
Die fiets het nie weer by die deurry verby gekom nie en het waarskynlik om die gebou gery, om een van die voorruite uit te gooi.

Die alarm het om 02:26 afgegaan, toe die klip die voorruit tref en die Protec Sekuriteitsfirma het mnr. Weideman laat weet dat daar ingebreek is.

Met sy aankoms het mnr. Weideman twee mans op die stoep van die melkery gesien lê en hulle gevra of hulle weet wie die persoon is wat die venster gebreek het.

Die gat in die ruit nadat ’n reuse plaveiselsteen daardeur gegooi is. Die dief het deur die gat geklouter.

Hulle het vaag beduie dat dit ’n ander man was, maar dat hy weggehardloop het.
Die polisie het uitgekom, die twee mans wat daar gelê het ondervra, en weer gery.

“Die een polisieman het nog vir my gesê ek sal voor die besigheid in my bakkie moet sit om die venster op te pas, sodat daar nie nog mense inklim nie. Hy het so ewe gesê ek sal my verwarmer moet aansit as ek daar sit, want dit is baie koud.”

Nadat die polisie weg is, het mnr. Weideman op sy CCTV kameras gaan kyk wat gesteel is.

Hy het gesien dat die dief ’n trollie gevat het en twee pakkies koekies, twee pakke beskuit, twee bruinbrode, ’n twee liter melk, ’n twee liter yoghurt, sjokolade en lekkers gesteel het.

Mnr. Weideman is weer na buite, waar hy opgemerk het dat die twee wat buite lê, ’n soortgelyke trollie by hulle het. Hy het ondersoek ingestel en gesien dit is presies wat uit sy besigheid gesteel is.

Hy het weer die polisie gebel en gesê dat hy die verdagtes en die gesteelde artikels het, maar hy is in kennis gestel hul voertuig is by ’n ander toneel en dat hulle nie weer kan terugkeer soontoe nie.

Die trollie met ’n vasgemaakte mandjie vooraan waarin die gesteelde artikels gelaai is.

“Daar is vir my gesê ek moet hulle self arresteer en dat ek die nodige mag kan gebruik om dit te doen.”

Mnr. Weideman het besef dat hy nie twee mans tegelyk kan arresteer nie en het weer die sekuriteitsbeamptes van Protec gebel.
Hulle het die twee mans gearresteer en polisiestasie toe gevat.

Mnr. Weideman is ook na die polisiestasie toe om ’n saak te maak, maar daar het nog ’n skok op hom gewag.

“Die vrou wat my verklaring moes vat, kon nie spel nie en het die verklaring wat sy probeer skryf het, opgeskeur. Daarna het sy my gevra om die verklaring te skryf.”

Hy het in ’n woordewisseling met haar betrokke geraak toe sy vir hom sê: “It is a difficult case.”

Dit het hom stomgeslaan. “Hoe kan dit ’n moeilike saak wees? Daar is ingebreek, ek het die artikels wat gesteel is by die verdagtes gekry. Hoe moeilik kan dit wees?”

Saterdagmiddag het ’n ander polisielid hom gebel en laat weet hulle gaan vingerafdrukke neem.

“Hulle het nou nog nie opgedaag nie. Ek het maar die venster laat regmaak en die glasstukke opgevee.” Dit het R2 300 gekos om die venster reg te maak.
Daar is nog duidelike plekke waar daar vingerafdrukke geneem kan word, al is die venster reg gemaak.

Met www.mobserver.co.za se aankoms vanoggend, was die polisie nog nie daar om die vingerafdrukke te neem nie.

• Die saaknommer wat mnr. Weideman gekry het, is nie vandag op die hofrol geplaas nie, wat beteken dat die verdagtes na alle waarskynlikheid laat gaan is.

“Ons vermoed dit is die man met die fiets wat die venster gebreek het, maar die twee wat daar gelê het, het die gesteelde artikels by hulle gehad. So hulle is tog net so skuldig?” het hy vies gesê-vra.

• Mnr. Weideman en sy vrou, Anet, is net so keelvol vir die haweloses wat snags op en langs die stoep lê en ’n gemors veroorsaak.

“Hulle steek goed aan die brand teen die gebou waar hulle lê. As die gebou aan die brand raak, wie gaan daardie kostes betaal? Ons weet nie meer wat om te doen nie!”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button