News

Klein Nicholas se begrafnis op 11 Junie

Klein Nicholas de Meyer, die vyfmaande oue baba wat verlede week op pad na die Witbank Hospitaal oorlede is, se begrafnis is op 11 Junie, om 12:00, uit die Lighuis gemeente in Aerorand.

Nicholas se pa, Marco, sê die diens is net vir familie en naaste vriende.
“Mense is egter welkom om van 13:00 na die graf toe te kom.”

Nicholas is op 22 Mei, op die dag wat hy as deel van ‘n drieling vyf maande oud geword het, op pad na die Witbank Hospitaal oorlede.

•Intussen worstel die ouers steeds of een nag in die Life Midmed Hospitaal nie dalk genoeg was om klein Nicholas se lewe te red nie.

“Ek is eerlik, ek weet nie of dit sy lewe sou gered het of nie, maar Nicky was nie stabiel toe hulle hom van die lewensonderhoudende masjiene afgehaal het nie. Daar was R25 000 beskikbaar en ek glo dit sou genoeg gewees het om hom net vir die nag daar te hou,” sê mnr. De Meyer.

Dit was hartverskeurend toe Nicholas van die masjiene afgehaal is en oorgesit is op die ambulansmasjiene.

“Toe die ambulans wegtrek, het sy hartjie die eerste keer gaan staan.”

Die paramedici het weer sy hartjie aan die gang gekry, maar net voor hulle by die Witbank Hospitaal aangekom het, het sy hart weer gaan staan. Paramedici en ongevalle personeel van die Witbank Hospitaal het alles probeer, maar Nicholas is kort daarna dood verklaar.

“Die paramedikuste was in trane toe hulle later met ons gepraat het. Hulle het so hard probeer om sy lewe te red.”

Mnr. De Meyer het gesê dat hy met die bestuurder van die Life Midmed Hospitaal, mnr. Hennie Viljoen, gaan praat oor die gebeure.

“Ons kan dit nie net so los nie. Ons kind is dood.”

Die paartjie sal altyd onthou hoe vriendelik Nicky was.

• Nicholas word oorleef deur sy ouers, Marco en Vicky, Matlyn en Mathys (deel van die drieling), sussies Gabriella (3) en Zialee (6), grootouers en familie.

•Die bestuurder van die Life Midmed Hospitaal, mnr. Hennie Viljoen, sê die dokters en personeel van die hospitaal het alle protokol gevolg wat hulle moes.

Mnr. Viljoen is genader vir kommentaar, nadat mnr. en me. Marco en Vicky de Meyer gesê het hulle voel hul vyfmaande oue baba, Nicholas, was te onstabiel om na die Witbank Hospitaal te vervoer. Nicholas het net voor die ambulans by die Witbank Hospitaal aangekom het, gesterf.

Mnr. Viljoen het gemeld dat die nasionale riglyn is dat wanneer mense nie ‘n mediese fonds het nie, dat die pasiënt gestabiliseer moet word en dan oorgeplaas moet word na ‘n provinsiale hospitaal.

Op die vraag of R25 000 genoeg sou wees dat die baba die nag in die hospitaal kon deurbring, het mnr. Viljoen gesê dat hy nie geweet het van enige gelde wat inbetaal is nie.

“Ek was nie daar nie. Die personeel het my gebel en gesê dit is ‘n privaatpasiënt en dat daar geen fondse beskikbaar is nie.”

Hy het wel gehoor dat daar ‘n Facebookgroep gestig is om geld te probeer insamel, maar dat daar op daardie stadium geen fondse beskikbaar was nie.

Daar is ook vir hom gevra of ‘n nag langer in die hospitaal ‘n verskil sou maak aan die toestand van die pasiëntjie.
Hy het gesê dat hy nie ‘n dokter is nie en nie kommentaar kan lewer nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button