Trok jaag weg na kar onder wiele beland
“Dit is net God se genade dat ons drywer leef. Ek bid elke dag vir al my mense en ek glo die Here het ’n beskermengel gestuur wat Calvin beskerm het,” het me. Christine Smit (vloot koördineerder, Tuv-Sud SA) gesê, nadat ’n trok vanoggend weggejaag het, nadat hy ’n voertuig getref het.
Hul veiligheidsbeampte, mnr. Calvin Malanzi, was op pad na Kriel Kragstasie en sou later vandag die voertuig terugbring vir ’n diens in Middelburg.
Die ongeluk het kort voor 07:00 gebeur.
Hulle is nie seker wat presies gebeur het nie, aangesien mnr. Malanzi aan erge skok gely het en waarskynlik ook harsingskudding opgedoen het.
As sy na die wrak van die voertuig kyk, lyk dit vir haar of die trok hom agter getref het, dit getol en weer onder die wiele van die trok beland het.

“Ons vermoed die drywer van die trok het gedink die persoon wat in die kar was, is dood. Dit is dalk hoekom hy weg gery het van die toneel af.”
Hulle het reeds personeellede uitgestuur om die area rondom Kriel te fynkam vir ’n trok met skade.

Me. Smit vra indien enige persoon die trok sien, wat duidelike skade sal hê, om haar te bel by 081 854 3888.
•Buiten harsingskudding, het mnr. Malanzi ook ’n sny aan sy kop opgedoen. Hy is hospitaal toe geneem en me. Smit wag om te verneem of hy ook ander beserings opgedoen het.

