News

Straatrower vry na slagoffer nie saak maak

’n Straatrower moes vrygelaat word, omdat die eienaar wie se selfoon hy deur die karvenster gegryp het, nie opgedaag het by die polisiestasie om ’n saak te maak nie.

“Ek moes self die boeie om sy hande losmaak, want die mense wat ek gehelp het, het nooit by die polisiestasie opgedaag nie,” het ’n omgekrapte Deon de Lange (reaksielid, Mid Alarms) gesê.

Dit nadat hy en twee van sy kollegas met die straatrower moes stoei. Omstanders het ook vertel hoe die einste verdagte al tientalle kardeure oopgeruk, mense geïntimideer en ander beroof het.

Deon het Sondag opgery in Walter Sisulustraat, op pad terug na hul kantore in Cowen Ntulistraat.

By die rooi verkeerslig op die hoek van Walter Sisulu- en SADC-straat, het voetgangers oor die pad begin loop.
’n Kort man met ’n wit hemp en swart hoedjie, het skielik aan die passasiersdeur van die bakkie voor Deon begin pluk.

“Die deure was gesluit, maar die bestuurderskant se venster was oop.”

Terwyl die kort verdagte aan die passasiersdeur van die bakkie gepluk het, het ’n langer man met ’n blokkieshemp skielik by die bestuurderskant van die bakkie ingeduik.

“Alles het voor my oë gebeur. Hy het halflyf oor die bestuurder geduik en die passasier se selfoon uit sy hand geruk.”
Die twee straatrowers het in verskillende rigtings gespat.

Die korter een het in Deon se rigting gehardloop en hy het hom eerste probeer vang, maar hy het hom later tussen mense verloor.
Deon het terug gejaag na hul kantore en vir reaksielid Bennie Landman gaan haal om hom te help soek.

’n Ent op in SADCstraat, by die kruising van OR Tambostraat, het ’n voetganger vir hulle beduie waar die man met die blokkieshemp is en hulle het hom weer agterna gesit.

Hy het af gehardloop in OR Tambostraat en deur die ou Sanlamsentrum gevlug.

Bennie en die passasier van die bakkie is agterna, maar Deon het om die gebou gejaag en hom saam met die persoon wat in die bakkie was, in die parkeerarea vasgetrek.

“Hy het die man van die bakkie geslaan en ek en Bennie moes help keer. Die verdagte het verskriklik baklei en gestoei en ons het al ons dae gehad om hom neer te pen om boeie om sy hande te sit. Selfs met die boeie om sy hande, het hy nog teen ons geveg.”

Reaksielid Jaco Cronjé het gelukkig ook opgedaag en sy kollegas gehelp om die vegtende man onder beheer te kry.
Terwyl hulle met die man gestoei het, het daar ’n groep omstanders om hulle kom staan.

“Hulle het ons gevra om hom net daar te los, want hulle wil met hom afreken, aangesien hy ’n bekende rower is.”

Alhoewel die man nie meer die selfoon by hom gehad het nie, het Deon besef hy is ’n goeie getuie, omdat hy alles sien gebeur het.

“Ons vermoed hy het die selfoon iewers neergegooi of vir sy makker gegee in die chaos, toe ons na hulle gesoek het.”

Die polisie is gekontak, maar hulle het nie voertuie beskikbaar gehad nie en gevra dat Mid Alarms self die verdagte inbring.

“Ek het vir die eienaar van die bakkie gevra om ons by die polisiestasie te kry. Ek het ook duidelik vir hom gesê dat hy die persoon is wat die saak moet maak, aangesien sy selfoon gesteel is. Ek kan net optree as getuie.”

Nadat hulle ’n ruk by die polisiestasie gewag het, het hulle besef dat die man wie se selfoon gesteel is, gaan nie opdaag nie.

• Die reaksielede van Mid Alarms doen ’n beroep op inwoners om sake te maak, anders gaan dié straatrowers en ander misdadigers nooit vervolg word nie.

• Die verdagte is ’n ou man, wat welbekend is vir sy misdaadstreke in die Sentrale Sakegebied.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button