Inbreker byt man op pols en breek sy vinger
’n Inbreker het ’n man aan die pols gebyt én sy vinger gebreek!
Mnr. Jonathan Haarhoff (jnr) moes mediese behandeling kry en sal moontlik ook antiretrovirale middels moet gebruik nadat die booswig hom gebyt het, toe hy hom vastrek.
Een van hul bure in Komatistraat het hom Sondagoggend gebel om te laat weet dat daar by haar ingebreek is.
Terwyl hy besig was om rond te ry om te kyk waar die dief is, is hy laat weet dat die dief in sy erf gesien is.
Mnr. Haarhoff het huistoe gejaag en gesien dat verskeie artikels, waaronder ’n groot tas, uit die motorhuis gesteel is.
Hy het weer begin rondjaag en in Letabastraat ’n man gesien wat met die tas (wat wielietjies het) in die straat afstap. Die verdagte het ook vier togsakke op sy skouers gedra.
Mnr. Haarhoff het by hom gestop, om hom te vra waar hy die goed kry, maar die boef het gesê hy is ’n boemelaar, wat die artikels in die straat gekry het.
’n Woordewisseling het ontstaan en die dief het probeer vlug.
Mnr. Haarhoff het hom beetgekry om hom te arresteer en daar het ’n gestoei ontstaan, waartydens die man hom aan die regterpols gebyt het.

Mnr. Haarhoff het begin skree vir hulp, want in die gestoei het hy gevoel sy linker ringvinger het ook seergekry en hy het besef sy vinger is gebreek.
WhatsApp ‘Bure-groep’ in die omgewing het vinnig reageer en teen daardie tyd was daar al ’n paar inwoners wat mnr. Haarhoff te hulp gesnel het.
Verskeie items in die tas en sakke is nie net by sy huis nie, maar ook by twee ander huise in dieselfde straat gesteel.

Mid Alarms reaksielid, Deon de Lange, is ook na die toneel ontbied om hulp verleen en het die dief geboei.
Hulle het die polisie gebel, maar daar was nie ’n voertuig beskikbaar nie en daar is gevra dat hy die verdagte polisiestasie toe moet neem.
Mnr. Haarhoff is hospitaal toe vir behandeling en het daarna saam met die ander inbraak-slagoffers sake by die Middelburg Polisiestasie geopen.
•Hy het later op sy CCTV Videomateriaal gesien hoe die dief in sy motorhuis ’n sak klere en stofsuier steel en in die tas prop.
•Veli Malaza het Maandag in die hof verskyn en is borg geweier. Hy het vandag weer in die hof verskyn en is die saak uitgestel na volgende week vir adresbevestiging. Malaza bly in aanhouding.

