Ssslang maak hom tuis in hysss…bak!
Twee hysbakke is gister uit mekaar gehaal, om vir ure na ’n slang te soek by die Nkangala Distrik Munisipaliteit in Walter Sisulustraat.
Mnr. Bernard van der Berg (LimPuma/Middelburg Herpetologiese Vereniging) is met sy slangtoerusting na die munisipaliteit om saam met die hysbakdiensman, mnr. Dirk Smit (van Otis Hysers) na die slang te soek.
Albei hysbakke is deursoek en daar is op al die vloere tot onder in die kelder gesoek, maar geen slang is gekry nie.

•Van die personeel het gesê dit is die vierde keer dat hulle die slang se kop gesien het, waar hy tussen die vloer en die hysbak van onder af vir hulle geloer het.
Al die kere het die hysbakdeskundiges die hysbakke binne en buite deursoek, maar slang se kind het hulle ontglip.
•Wat vreemd is vir mnr. Van der Berg is dat dat daar geen seilmerke in die stof om of agter die hysbakke gekry is nie.

•Daar sal nou poeier reg rondom die hysbakke en onder in die kelder gegooi word, om te kyk of die slang daardeur seil.
Tydens roetine instandhouding opvolge sal die hysbakdeskundiges dan kyk of daar enige seilmerke is.

