Tweede kar beland in Klein Olifantsrivier
Vir die tweede keer binne twee maande het ’n voertuig in die Klein Olifantsrivier beland.
Dié keer het ’n silwer Opel Corsa Saterdag kort voor middernag die rivier ingery, by die 4SAI Bataljon brug.
Mnr. Herculaas Taljaard (gemeenskapspolisiëringslid) is deur lede van die insleepdienste gebel om op die toneel te help.
Met sy aankoms het die bestuurder van die voertuig op die wal gestaan.
“Hy het ’n knop teen sy kop gehad en het erg aan skok gely. Hy kon nie vir my sê wat gebeur het nie. Hy was beslis nie onder die invloed nie, maar weens die skok kon hy nie sê hoe sy kar in die rivier beland het nie.
Lees ook: Elf ure in die Klein Olifants
Die voertuig is net voor die brug, links teen die wal af, waar dit gerol en in die rivier beland het.
Met die span van ABA Insleepdienste se aankoms, het hulle vinnig gewerk om die voertuig uit die water te kry, aangesien die stroom baie sterk was.

•Die Middelburgdam-opsigter, David Nonyana, het gesê dat alhoewel daar nie ’n sluis oopgemaak is nie, hulle wel die kompensasieklep op 100% moes oopmaak, omdat die dam so vol is. Dit is waarom die stroom water so sterk was.
•Op 16 April vanjaar is daar vir 11 ure gewerk om ’n voertuig uit die Klein Olifantsrivier agter die Munisipale Magasyn te kry. Daar is aanvanklik vermoed dat daar mense in die kar was, aangesien daar niemand op die toneel was nie.
Lees ook: Geen mense in voertuig wat uit rivier gehaal word
Nadat daar 11 ure gespook is om die voertuig na die oppervlak te bring weens die sterk strome, met ’n sluis oop, is daar gevind dat daar niemand in die kar was nie.
Die eienaar van die voertuig is dieselfde aand opgespoor en het later gesê dat mense hom van die pad af probeer dwing het in Proteastraat (naby die Magasyn), waarna hy op die grondpad ingejaag en weg gehardloop het.
Hy het geen idee gehad hoe sy kar, ’n Dodge, daarna in die rivier beland het nie.
