Munisipale werkers drom tans saam om te besluit of ’n volskaalse staking aangekondig gaan word.
Inwoners is reeds vroegoggend by die munisipaliteit weggewys.
Dit is bloot ’n herhaling van Vrydag se magsvertoon deur personeel wat weekliks met nuwe eise vorendag kom.
Intussen is woede is aan die oorkook in Middelburg weens die onderbreking van dienste, met Mineralia en Suid wat die ergste daaraan toe is, en nou al 27 dae sonder enige lopende water sit.
Vrydag moes daar weer vure doodgeslaan word by die munisipaliteit waar werknemers weer gestaak het weens nuwe sekuriteit wat by die burgersentrum aangestel is.
Werkers was dikmond omdat die nuwe sekuriteitskontrakteur gewapen is.
Die wapens “intimideer” glo die werkers, wat self van intimidasietegnieke gebruik maak gedurende stakings.
’n Aanrandingsklag is juis verlede week in die plaaslike hof teruggetrek deur die adjunkhoof van die verkeersdepartement, teen sy kollegas.
Daar is vandag vroeg weer laat weet dat die verkeersafdeling staak omdat lyfwagte vir die bestuurder goedgekeur is.
Sedert September se voortslepende stakings is verskeie munisipale werknemers se voertuie ook in die oproer beskadig, wat daartoe gelei het dat werkers weier om die munisipale persele te betree sodra daar nuwe arbeidskonflik opduik.
Die munisipaliteit moes oor die naweek ook weer elektrisiteitsaankope vir almal oopmaak, ongeag uitstaande rekeninge, weens die arbeidsgeskille.
Die raad en bestuur sit nou tussen 1500 moeilikheidmakers en 250 000 desperate inwoners wat gyselaar gehou word.
Me. Corrie Noortman en haar gesin is op hul knieë.
Die gesin sit al 27 dae sonder enige water.
Haar man is ’n dieselwerktuigkundige en me. Noortman moet sy klere uit ’n plastiekemmer was.
Die waterterkort kos die gesin ’n arm en ’n been omdat water aangekoop moet word, selfs vir die spoel van toilette.
Me. Noortman sê sy voel soos ’n “nul op Middelburg se kaart”.
Sy is nie die enigste een nie.
Die ganse Mineralia sukkel ook steeds met droeë krane.
Sakemanne het begin om self herstelwerk aan beskadigde elektriese kabels te doen en vergader vandag om oor die pad vorentoe te besluit.
Daar is veral erge frustrasie omdat die lisensieafdeling al maande swak diens of geen diens lewer nie. Inwoners loop gevaar om beboet te word omdat hulle nie hulle bestuurderslisensies kan hernieu nie.
Intssen bou woede nie net op teenoor die stakende werkers nie, maar ook teenoor raadslede.
www.mobserver.co.za het die naweek verskeie oproepe ontvang van inwoners wat vra “waar is die raadslede.
Ons het vir hulle gestem en nou sit hulle net daar om vet salarisse te verdien, terwyl ons ly. Hulle het ’n monster geskep wat ons dorp vernietig.”
