Prokureur sê waarom hy by moordsaak betrokke is
Middelburgse prokureur, Jaco Kruger, het onthul waarom hy by die moordsaak van Gerhard Jansen van Vuuren betrokke is.
Beide die staat en verdediging het hul argumente skriftelik ingehandig en regter Ian Cox het dit deurgegaan. Uitspraak sal vandag gelewer word in die Johannesburgse Hooggeregshof.
Jansen van Vuuren se verhoor is afgehandel. Hy staan tereg op die moord van sy meisie, Andrea Venter, wat in 2011 voor ’n woonstelkompleks in Johannesburg met ’n mes doodgesteek is.
Jansen van Vuuren het probeer selfmoord pleeg, maar is in hegtenis geneem.
Hy het later met vervalste reisdokumente landuit gevlug, maar is in Junie 2020 weer in hegtenis geneem. Interpol het hom in Oktober 2020 vanaf Brasilië na die OR Tambo Lughawe vergesel.
Mnr. Kruger is deel van die verdedigingspan en sê daar is ’n rede waarom hy die saak gevat het. Francois Joubert (wat hooggeregshof bevoegdhede het) het die verskynings beharting.
Mnr. Kruger het van Jansen van Vuuren gehoor toe hy genader is oor ’n forensiese sielkundige.
“Nadat ek ’n paar keer met Gerhard interaksie gehad het, het ek agtergekom hy is ’n intelligente, beleefde man. Die tipe persoon wat jy na jou braai toe sal nooi.”
Net daar het hy aanmekaar vir homself die woorde: “hoekom?” begin vra.
“Hoekom sal ’n intelligente, normale persoon ’n moord pleeg voor CCTV kameras?”
Die hoekoms het net meer geword en hy het besluit dat enige persoon die reg het op regsverteenwoordiging.
“Hy is nie die monster wat almal hom uitmaak om te wees nie. ’n Monster is ’n pa wat sy twee kinders se kele afsny! Die groot vraag is: het hy sy handeling besef? Hier het dit gegaan oor sy geestesgesondheid.”
Mnr. Kruger vertel dat ’n psigiater vir Jansen van Vuuren by Korrektiewe Dienste besoek en hom gediagnoseer het met Intemitterende plofbare versteuring (IED – Intermitted Explosive Disorder).
Jansen van Vuuren het nooit getuig nie, maar het van die begin af gesê dat hy nie kan onthou wat die dag gebeur het toe Andrea 16 keer met ’n mes gesteek is en hy homself daarna in die keel met die mes gesteek het nie. Op videomateriaal is later gesien hoe hy langs die lyk van Andrea gaan lê en vreemde bewegings maak, terwyl hy erg bloei.
“Jansen van Vuuren was weens die bloedverlies lank in die intensiewe eenheid. Die psigiater het gesê dat dit moontlik is dat hy weens die bloedverlies en suurstoftekort na sy brein toe, nie kan onthou wat gebeur het nie.”
Mnr. Kruger sê terwyl hy ’n strafreg student was aan Tukkies het hy baie geleer by prof. Piet Carstens.
“Prof. Carstens het ’n passie gehad oor die kwessie van ontoerekeningsvatbaarheid.”
Tydens die saak het hy meer en meer daaraan gedink.
“Het Jansen van Vuuren sy handeling besef en het hy daarvolgens gehandel? Die antwoord wat ek gekry het, is dat ons hier te doen gehad het met ’n geestestoestand en ontoerekeningsvatbaarheid.”
Mnr. Kruger wou nie verder uitbrei oor die argument wat hulle ingehandig het nie.
“Jansen van Vuuren is klaar skuldig bevind deur die wêreld. Baie dinge is vooruit geloop en het stertjies bygekry. Dinge wat nie die waarheid was nie. Ek sê net weer: het hy sy handeling besef?”
