Video wys hoe man en vrou rose steel
Meer as 24 000 mense het al die video gesien waar ’n man en vrou Vrydagaand rose gesteel het by die Middelburg Stasie.

“Almal het al iewers in hul lewens nonsens aangejaag. Al wat ek wil hê is dat hulle my in my oë kom kyk en jammer sê. Dit help ook nie hulle bring nou die rose terug nie. Hulle sal die R400 moet betaal en die naamplaatjies teruggee,” het ’n omgekrapte mnr. Johan Janse van Rensburg vanogggend gesê.
Hy en sy span was Vrydagaand omstreeks 21:00 besig om die geboue toe te sluit, toe daar ’n bakkie ingejaag kom, ’n vrou en man uitspring en sewe rose uit die grond ruk.
Mnr. Janse van Rensburg sê hulle was onbewus van die diefstal, tot hulle later op die CCTV videomateriaal gesien het wat gebeur.
“Ek het die video op Facebook gesit en 24 000 mense het daarna gekyk.”
Saterdag het hy ’n oproep gekry van ’n vrou wat gesê het sy is familie van die skuldiges.

“Sy het Saterdag hier aangekom met drie rose en gevra dat ons die videomateriaal moet afhaal. Ek het gesê die skuldiges moet self kom verskoning vra!”
Hy het intussen ’n persoonlike boodskap op Facebook gekry waarin daar vir sy selnommer gevra is. Hy het dit gegee, maar tot nou toe was die skuldiges nie by hom nie.
“Hulle is blykbaar uitgedaag om dit te doen! As hulle dit op die regte manier doen en verskoning kom vra, sal ek nie stappe neem nie.”
Mnr. Janse van Rensburg voel egter hulle moet die rose vervang.
“’n Paar jaar gelede is daar ’n persoon tronk toe omdat hy rose gesteel het. Julle moet vandag verskoning kom vra!”
•’n Vrou het hom gekontak en gesê dit was net sy wat die rose gesteel het, maar mens kan duidelik sien dis ’n man en ’n vrou.
Sy het aangebied om die rose te vervang, maar gesê sy sal dit eers na 1 Julie kan doen, wanneer sy geld kry.
Op ’n stemboodskap wat sy gestuur het, het sy gesê dat sy “na 16:00 vandag weer ’n draai sal kom maak.”
